Local newsNews

Greenhills-egpaar vier 50 jaar saam

Jan en sy vrou Annatjie is na 50 jaar steeds smoorverlief.

“Die wenresep vir 50 jaar van getroud wees is geloof, hoop en die grootste hiervan is liefde,” het Jan en Annatjie Vos gesê.

Jan is 73 jaar oud en sy vrou Annatjie is 69. Hulle woon in Greenhills en sal op 17 Junie vanjaar 50 jaar getroud wees.

Hulle het mekaar in die Sondagskoolklas ontmoet en net daar het Jan besef dat hy eendag met die beeldskone dame gaan trou. Almal het natuurlik gedink dat hy net bluf, maar hy het geweet dat hy sy ewige liefde gevind het.

Jan en Annatjie is trots op hul vier kinders en drie kleinkinders, en voel baie geseënd.

“Vyftig jaar saam met my sielsgenoot was nie altyd maanskyn en rose nie,” het Annatjie gesê. Sy het ook vertel dat die afgelope 50 jaar nie sonder teëspoed was nie, maar dat hulle vasgebyt het en dat hulle mekaar te alle tye ondersteun het.

Jan en Annetjie op hulle troudag op 17 Junie 1967.

Jan het ook vertel dat sy liefde vir Annatjie nog nooit minder geword het nie; inteendeel, dit het oor die jare net sterker en meer geword. Hulle geniet dit om elke dag saam te stap en ook om tuin te maak. Hulle is ook groot liefhebbers van die buitelewe en kyk graag saam na voëls.

Die paartjie se wenke vir jong getroudes is die volgende:

• Geduld

• Doen dinge saam

• Praat dinge uit

• Luister na mekaar

• Stel die Here eerste in jou lewe

Die Herald wil graag vir Jan en Annatjie gelukwens met die besonderse mylpaal.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button