Loop Culemborgpark deur onder huisinbrake en-rooftogte?

Hoe kwesbaar is Culemborgpark vir misdaad? 'n Slagoffer vertel ...

Inwoners van Culemborgpark voel hulle word geteiken na ‘n reeks voorvalle die afgelope maand.

Constantiastraat was byvoorbeeld onlangs drie keer die teiken van inbraak en/ of huisroof.

Volgens kaptein Appel Ernst, Randfontein-polisiewoordvoerder word ‘n insident as ‘n huisbraak gedefinieer wanneer die inwoners se lewens nie in gevaar is nie en slegs goedere gesteel word. Tydens ‘n huisroof, daarenteen, is die inwoners se lewens in gevaar wanneer die indringers byvoorbeeld vuurwapens of skerp voorwerpe gebruik.

“Inbrake vind oral plaas – in die dorp, op plotte en plase. So ook huisrooftogte. Daar is geen spesifieke rede waarom Constantiastraat nou as ‘n probleemstraat bestempel word nie,” het Ernst gesê.

‘n Inwoner van Constantiastraat wat ‘n slagoffer van ‘n huisinbraak was, het aan die Herald beeldmateriaal verskaf van die voorval. Volgens die persoon, wat anoniem wil bly, is hy drie maande tevore ook geteiken. Die verdagtes kon glo nie sy hek opgelig kry om toegang tot sy erf te verkry nie.

Lees meer: Robbery Rampage in Culemborg Park

Drie persone het egter onlangs weer sy huis geteiken. Dié keer het hulle in ‘n motor (volledige beskrywing aan die Herald bekend) teen ongeveer 1.25nm by sy huis opgedaag. Hulle het die hek oopgekry en daarna die veiligheidsdeur oopgebreek. Die alarm het afgegaan en toe hulle nie ‘n gangdeur kon oopbreek nie, het hulle gevlug.

Wat vir die eienaar verdag is, is dat ‘n ander motor (volledige beskrywing aan die Herald bekend) voor die inbraak ongeveer drie keer stadig verby die woning gery het. Daar word vermoed dat hulle eers die area verken het voordat die verdagtes in die ander motor toegeslaan het.

Die inwoner het vertel dat dieselfde motor met die ‘verkenners’ op 9 Junie ook glo verskeie kere verby sy buurman se huis gery het, wat enkele minute later glo beroof is. Die twee indringers wat in ‘n ander motor opgedaag het, het die huisbewoners aangehou.

Die Herald het beeldmateriaal van die verdagtes ontvang en aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek. Meer inligting oor die vorige insidente is nog nie bekend nie. Indien jy meer lig op die saak kan werp, laat weet ons per epos na randfonteinherald@caxton.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version