Voorkom probleme met skooltoelatings vir 2018

Deur slegs die volgende stappe te volg kan jy as ouer probleme met skooltoelatings vermy.

Dit is amper weer tyd vir ouers om hul kinders vir Graad 1- en 8-skooltoelating in Gauteng vir 2018 te registreer. Om probleme te voorkom het die Skoleondersteuningsentrum (SOS) van Solidariteit Helpende Hand ’n sesstap-raadplan vir Afrikaanse ouers opgestel.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die SOS gaan vanjaar se aanlyn-toelatingsproses dit nog moeiliker vir Afrikaanse ouers maak om hul kinders suksesvol by hul skool van keuse geplaas te kry. “Ouers moet dus nie in ’n gemaksone verkeer nie, maar dubbel seker maak dat hulle betyds die regte stappe volg. Die registrasieproses begin die dag na die 1 Mei openbare vakansiedag (Werkersdag) en baie ouers is dalk nog in ’n vakansiegees of nie op ’n plek met internettoegang nie.”

So lyk die sesstap-raadplan om Afrikaanse ouers met die registrasieproses te help:

1. Kry so gou moontlik die skool van keuse se aansoekvorms en maak seker u het gewaarmerkte kopieë van al die vereiste dokumente gereed om suksesvol aansoek te doen.

2. Dien die voltooide papieraansoek (met alle bykomende dokumente) persoonlik so gou as moontlik tussen 18 April en 12 Junie 2017 by die skool van keuse in en verkry ’n bewys daarvoor. Indien u versuim om hierdie dokumente voor 12 Junie in te dien, sal u kind nie geplaas kan word nie en u sal die skool wat vir u gekies word, moet aanvaar.

3. Sorg dat u Dinsdag 2 Mei vanaf 8vm by ’n rekenaar met internettoegang is om aanlyn te registreer by die webadres www.gdeadmissions.gov.za of www.gautengadmissions.gov.za.

4. Ruim dus genoeg tyd in om die hele aanlynproses sorgvuldig en deeglik op hierdie dag of so gou moontlik daarna te voltooi. Voltooi al die velde en maak seker dat u registrasie suksesvol na die aanlynplatform deurgegaan het. Hierdie aanlynaansoek moet voor 12 Junie gedoen word maar doen dit eerder so gou moontlik vanaf 2 Mei.

5. Maak seker dat u bewys deur middel van SMS asook ’n brief tussen 24 en 28 Julie vanaf die Gauteng-onderwysdepartement ontvang wat bevestig dat u suksesvol aanlyn geregistreer het.

6. Ouers het sewe skooldae tussen 1 en 10 Augustus om die skoolplasing volgens die proses wat die departementele brief sal aandui, óf te aanvaar óf te verwerp.

Hugo het verder gesê, “Ouers moet kennis neem dat die aanlyn-toelatingstelsel nêrens die opsie vir Afrikaanse ouers gee om hul taalvoorkeur aan te dui of te gebruik nie. Die SOS voorspel dat baie Engelssprekende ouers juis hierdie gaping in die stelsel gaan gebruik om by Afrikaanse skole aansoek te doen en uiteindelik die skool se Beheerliggaam forseer om Engelssprekende leerlinge in te neem. Skoolhoofde gaan ’n kritiek belangrike rol speel om akkurate plasings volgens hul skool se toelatingsbeleid te maak. Skoolhoofde gaan dus alle moontlike ondersteuning nodig hê, ook van ouers. Die skoolhoof se plasings moet eers deur die Gauteng-onderwysdepartement goedgekeur word – dit op sigself is vir die SOS ’n bron van kommer.

“Ouers wat probleme of klagtes het word versoek om direk by die skool waar hul aansoek gedoen het, te gaan aanklop om hulp. Hulle is die beste in staat om ouers te help aangesien hulle die proses op die aanlynstelsel kan volg.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version