Local newsNews

Ma, dogter en twee ander sterf ná Buchan-byeenkoms

Ma en dogtertjie sterf saam in ongeluk op pad terug van die gebedsbyeenkoms naby Bloemfontein wat deur Angus Buchan gelei is. Twee ander is ook dood en ses is beseer.

‘n Vrou en haar dogter, ‘n Graad 3-leerder van Laerskool Rapportryer, was twee van vier mense wat die afgelope naweek tragies in ‘n gru-botsing op die N12 tussen Klerksdorp en Potchefstroom gesterf het.

Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, was twee ligte motorvoertuie Saterdagaand (22 April) in ‘n botsing betrokke. Ses ander is beseer.

Die skool het bevestig dat hulle op pad terug Randfontein toe was na die It’s Time-gebedsbyeenkoms naby Bloemfontein wat deur Angus Buchan gelei is.

Lees ook: Geliefde Jannas-onderwyser sterf in ongeluk

Meiring het vertel dat hul paramedici die twee voertuigwrakke in die middel van die pad ‘n entjie uit mekaar aangetref het. Hulle het die lyke van drie volwassenes en die dogtertjie in een voertuig gekry. Daar kon niks verder vir hulle gedoen word nie en hulle is op die toneel dood verklaar.

Die ander ses persone se beserings het gewissel van lig tot matig. Hulle is na verskeie hospitale toe geneem.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en polisie was op die toneel vir verdere ondersoek.

Lees ook: Jannas-leerder verloor albei ouers in ongeluk

“Die skoolhoof, personeel asook die dogtertjie se medeleerders wil hiermee ons innige meegevoel en simpatie aan die familie betuig,” het Annelie Hefer, die dogtertjie se onderwyser oor die tragiese gebeure gesê.

Die skoolhoof, Carel Stoop, het bygevoeg, “Ons dra julle in ons gebede en bid vir berusting en vertroosting”.

Die name asook identiteit van die ma en dogter word vir eers nie bekendgemaak nie. Die Herald kon ongelukkig nog nie bevestiging kry van die identiteit van die twee ander mense wat gesterf het nie. Skakel gerus ons kantoor by 011 693 3671 vir verdere inligting.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button