Local newsNews

Hulp om uit die kloue van dwelms, prostitusie te ontsnap

Pastoor en sy span wil uitreik na dwelmslawe en vroue van die nag. Die Herald stel hulle voor.

Pastoor Edward van Schalkwyk, 42, van Turn to Eternal Life Bible Ministries en ‘n voormalige Randfonteiner wil prostitusie en dwelmmisbruik in gemeenskappe beveg. Edward het in 2008 amptelik pastoor geword.

Turn to Eternal Life Bible Ministries is ‘n niewinsgewende organisasie wat in 2012 geregistreer is. Sune Schutte, 42, werk saam met Edward en sy is ‘n pastorale berader. Johan-dre Schutte en Aldon Farrell, Sune se seuns, spring ook in om met die bediening te help.

Een van die bordjies wat die gemeenskap uitnooi om teen dwelms te veg. Foto : Edward van Schalkwyk.

Die Herald het hulle onlangs in Greenhills ontmoet waar hulle tent opgeslaan het en met brosjures en plakkate Randfontein-inwoners wil bewus maak van verskillende tipes dwelms en die gevare daarvan. Hulle gebruik vir dié doel selfs foto’s van mense wat diep vasgevang is in dwelmmisbruik, en wys voorbeelde van die verskillende maniere waarop dwelmgebruikers die verskillende tipes dwelms rook, spuit of snuif. Voorbeelde van wapens en boeke wat persone in die okkulte gebruik, is ook ten toon gestel.

Michiel Jonker, pastoor Edward van Schalkwyk en Sune Schutte.

Edward help dwelmgebruikers, prostitute en ook dié wat in verskillende okkulte vasgevang is. Hy het self al die donker kant van die lewe gesien en in een stadium vir drie maande in ‘n tent gebly waar hy elke dag sy Bybel gelees het en so nader aan God gekom het.

 

Dit het hom in staat gestel om mense wat op straat leef, te help en ook hoop te gee vir ‘n beter toekoms. Hy het talle stories oor prostitute, wat hy en Sune eerder ladies noem.

Edward het gesê, “Mense ry verby die ladies en gluur hulle aan, maar hulle verstaan nie dat die vrou haar eie storie het nie.” Hy het vertel dat dwelms nagenoeg 90 persent van die tyd met hulle tipe werk gepaard gaan en dat niemand kan doen wat hulle doen sonder om dwelms te gebruik nie. “Die meeste van die vroue kry elke dag met minstens 10 verskillende mans van alle rasse te doen.”

Johan-dre Schutte, Sune se seun, is ook aktief besig om dwelms te bekamp. Foto: Edward van Schalkwyk

Daar is boonop altyd pimps wat hulle met ‘n valkoog dophou. In een geval in Krugersdorp hou die pimp sy prostitute van ‘n gebou af dop – met ‘n geweer byderhand.

Sune en Edward glo daaraan om aktief betrokke te wees om die ‘vroue van die nag’ te help. Hulle is gereeld op straat waar hulle ‘n verhouding met die prostitute opbou en hulle sodoende uit daardie donker wêreld probeer help. Elke Dinsdag is hulle tot laat besig met hul bediening.

‘n Plakkaat van ‘n bejaarde wat aan dwelms verslaaf is. Sy het uiteindelik as gevolg daarvan gesterf.

Dwelmslawe is ook een van hul groot passies. Hul kennis van dwelms is uitstekend en die Herald was verbaas toe Edward verduidelik het dat nyaope, wat ‘n groot probleem in Randfontein is, uit dagga met heroïen bestaan.

Michiel Jonker, Sune se broer, wat ook saam met Turn to Eternal Life Bible Ministries werk, is ‘n dwelmoorlewende wat mense motiveer om afstand te doen van dwelms.

• Navrae: Skakel Pastoor Edward van Schalkwyk by 079 127 9054 of vir Sune by 079 774 6208.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button