Local newsNews

Kallie, ‘n engel met vlerke

'Hoekom moet ek wat ek het, net vir myself hou?'

Kallie Els, 80 jaar oud, wat al 37 jaar lank ‘n inwoner van Randfontein is, het die Herald verras toe hy een oggend ‘n liefdadigheidspakkie by die kantoor afgelaai het.

Kallie, wat vir 60 jaar op verskeie plekke in Randfontein in die mynbedryf gewerk het, het sonder dat ander daarvan bewus was, op verskeie artikels in die Herald gereageer en liefdadigheidswerk gedoen.

Hy het vir een gesin met ‘n gestremde dogtertjie, kruideniersware en breekware gekoop. In ‘n ander geval waar iemand ‘n rolstoel nodig het, is Kallie besig om te reël dat die man ‘n beter rolstoel kry.

Kallie Els, inwoner van Greenhills, gee uit sy hart uit.

“Daar was ‘n bejaarde man in Helikonpark wat net een oog gehad het, en half lam was in sy een been. Hy was op straat. Ek het hom vir drie jaar onderhou en het gesorg dat hy warm klere en nuwe skoene gehad het,” het Kallie vertel.

Kallie het verder gesê dat toe die man 60 geword het, het hy telkemale sy vervoerkoste Rustenburg toe betaal sodat hy vir ouderdomspensioen kon aansoek doen. Dit was vir hom die mooiste gebaar toe die man al die pad teruggekom het om vir hom ‘n KitKat as bedanking te gee.

Kallie se reaksie op die Herald-artikel oor die familie van Rikasrus, wat fisies en finansieel in groot nood verkeer, was verstommend. Al die medikasie wat in die artikel genoem is, het hy nederig by die Herald kom afgee.

Kallie Els, inwoner van Greenhills, gee uit sy hart uit.

Die medikasie is aan die familie oorhandig, en hulle was oorstelp van dankbaarheid. Die man, 50, wat aan kanker en verspreide sklerose ly, het die volgende boodskap aan Kallie oorgedra:

“Thank you for the medication you gave us. We are overwhelmed by good people like you. My little family was losing hope of ever being helped and feeling love from residents. People like you make such a huge difference in our lives. You have made a family cry because you chose to care instead of walking away. May you be richly blessed for your kindness. Shalom.”

Kallie, wat self drie kinders het, is dankbaar teenoor die Here dat hy in die posisie is om ander mense te kan help. “Die Here is baie goed vir my, ek het my gesondheid en is geseënd. Hoekom moet ek wat ek het, net vir myself hou?” het hy gesê

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes 

Roodepoort Record

Krugersdorp News

Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button