Local newsNews

KYK: Betogers steek trok aan die brand

KYK: Eienaar moet toekyk hoe betogers sy vragmotor brand.

‘n Man moes op sy 63ste verjaarsdag toekyk hoe sy trok brand nadat betogers sy drywer aangeval het.

Op Vrydag, 17 Maart het honderde betogers Flowerstraat by die Zenzele informele nedersetting ingevaar. Dit het gebeur ‘n dag nadat toestemming vir ‘n beplande diensleweringsprotes geweier is.

De Jager se voorhaker wat gebrand het. Foto ingestuur.

Volgens kaptein Appel Ernst, Randfontein-polisiewoordvoerder het ongeveer 300 betogers die R28 versper wat Zuurbekom en Zenzele verbind. “Hulle het ook ‘n vragmotor aan die brand gesteek. Die R28 is daarna gesluit en die polisie het verkeer na die R559 en N12 herlei. Die Randfontein Polisie was op die toneel om orde te herstel en om toe te sien dat daar nie verdere brandskade aan eiendom aangerig word nie. Die pad is om 10nm weer oopgestel nadat die onrus effens bedaar het. Twee Nyala-onlustevoertuie en ‘n aantal lede van die Openbare Orde Polisie-eenheid is daarna ontplooi om die situasie te moniteer.”

‘n Verslae Piet de Jager, eienaar van die uitgebrande vragmotor was sy drywer besig om grondstowwe na ‘n nabygeleë myn te vervoer. De Jager doen subkontrakteurswerk vir die myn.

“Ek, my seun en dogter was by ‘n eetplek in Greenhills toe my drywer bel en sê ‘hulle’ is besig om my trok te brand. Ek en my seun het toe deurgejaag en by die R28-indraai by Flowerstraat oral polisie gesien. Hulle wou my eers nie deurlaat nie, maar toe het ek gesê, ‘Hey, dis my trok wat daar brand’. Ons is na die toneel toe waar my voorhaker aan die brand was, met die polisie kort op ons hakke.”

Polisie op die toneel. Foto ingestuur.

De Jager se 42-jarige drywer wat reeds drie jaar lank vir hom werk, het hom geskok vertel hoe die betogers gedreig het om hom saam met die vragmotor te verbrand.

Behalwe dat De Jager se verjaarsdag bederf is met die nuus van die skade aan sy voorhaker, moes hy asook die polisie toekyk hoe sy sleepwa ook aan die brand gesteek word.

De Jager voel dat veral sy sleepwa ten minste gered kon gewees het en is ontsteld dat niemand iets probeer doen het om dit te red nie.

“Ek is baie ontsteld. ‘n Ou werk jou lewe lank dan gebeur sulke goed. Dit is ‘n groot terugslag vir my besigheid,” het De Jager vir die Herald vertel.

Volgens hom kan die skade om en by R800 000 beloop.

De Jager se voorhaker wat gebrand het. Foto ingestuur.

“Ek voel die polisie kon meer gedoen het. Hulle het nie ammunisie gehad nie en het teruggeval. Dis toe dat my sleepwa aan die brand gesteek is – terwyl ons almal gestaan en kyk het.”

Ernst het op De Jager se ontevredenheid met die polisie soos volg geantwoord, “Die man is op die toneel in kennis gestel dat hy sy misnoeë in ‘n verklaring te kenne kan gee, wat ons dan verder sal ondersoek. Daar is kanale waardeur die man dit kan rapporteer en hy word aangeraai om dit te volg.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button