Local newsNews

Bejaarde sterf nadat krag afgaan

Asmatiese vrou in haar 60's wat van 'n suurstoftenk afhanklik was, is dood nadat haar krag glo afgegaan het.

‘n Vrou van 61 wat van ‘n suurstoftenk afhanklik was en aan asma gely het, is Dinsdagoggend in haar huis in Aranda dood nadat die krag glo die vorige dag afgegaan het.

Die Herald is deur haar swaer ingelig dat sy omstreeks 9vm begin siek voel het en om en by 11.30vm onverwags oorlede is.

Die huis in Aranda waar die vrou gesterf het.

“Ek het ‘n oproep van een van die familielede ontvang wat my gevra het om te gaan ondersoek instel, nadat die persoon verneem het dat die vrou se gesondheid nie goed was nie,” het Elsie Vorster, 52, ‘n buurvrou van die oorledene op die toneel vir die Herald gesê.

Vorster het verder vertel dat die eienaar van die perseel waar sy woon, dadelik gaan ondersoek instel het. Hy was eerste op die toneel.

Elsie Vorster, die oorledene se buurvrou.

“Hy het my gekontak en ek het dadelik die nooddienste geskakel. Die vrou was sieklik en het onder andere maagprobleme gehad,” het sy gesê. “Haar swaer, 62, wat saam met haar in die huis woon het vir my vertel dat bloed en skuim by haar mond uitgekom het. Sy was hoogs asmaties en was baie afhanklik van haar suurstoftenk.”

Vorster het verder gesê dat die oorledene se krag ‘n dag tevore afgesny is. Sy het verduidelik dat die oorledene glo reëlings met die munisipaliteit getref het aangesien die elektrisiteitsrekeninge so gewissel het. Die oorledene het glo R3 000 betaal maar die krag is ten spyte daarvan afgesny.

Randfontein-polisie en ER24 was op die toneel.

“Haar suurstoftenk was dus van gister af buite werking,” het Vorster gesê. Die Herald het vir Vorster gevra of die vrou na haar mening nog sou geleef het as haar suurstoftenk gewerk het, waarop sy geantwoord het, “Definitief”.

Die Randfontein-polisie was ook op die toneel. Nooddienste het glo omstreeks 12.11nm opgedaag en die vrou op die toneel dood verklaar. Haar dood word aan natuurlike oorsake toegeskryf.

Die oorledene het haar lewe lank in Randfontein gewoon. Haar identiteit is teen druktyd weerhou aangesien haar familie nog van haar dood in kennis gestel moes word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (onthou asseblief om jou kontak besonderhede by te voeg) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button