Hiëna verskeur glo boerboel

Grutoneel op plaas waar 'n gesin se geliefde boerboel glo deur 'n hiëna aangeval en gevreet is.

‘n Familie se geliefde driejaaroue boerboel is die afgelope naweek glo deur ‘n hiëna aangeval en gevreet. Die voorval het op ‘n plaas in Holfontein naby Brandvlei plaasgevind.

Volgens Yolandi Killian, 42, en Francois Olivier, 42, is hul boerboel, Butch, Vrydag, 3 Maart laas gesien.

Yolandi Killian, by Butch se graf. Foto: Ingestuur

Martinez Olivier, 12, Francois se dogter, het Sondagoggend (5 Maart) te perd op Butch se erg verminkte oorskot afgekom wat nagenoeg 150 meter van die huis af gelê het. Sy agterlyf was weggevreet.

Killian het vertel dat hulle vir ‘n paar aande hul ander honde hoor blaf en tjank het.

Op Saterdag, 4 Maart, was dit vir hulle vreemd dat Butch nie huis toe gekom het nie. Die volgende oggend het hulle na hom begin soek.

‘n Geskokte Martinez het glo die hiëna se spore by Butch se oorskot gekry. Olivier het benewens die spore ook van die hiëna se naels daar gekry. Daar was ook glo klein spoortjies langs die grotes. “Ek dink nie ‘n hiëna het nog ooit tevore ‘n dier in hierdie area aangeval nie,” het Olivier gesê.

Olivier het soortgelyke spore op sy plaas gekry. Foto: Ingestuur

Toe die Herald vanoggend (8 Maart) met Olivier gesels het, het hy vertel dat ‘n ander boer wat ‘n kilometer van sy plaas af woon, ook klein spoortjies gekry het.

“Die boere in die omgewing is nou bang dat hul skape maar ook vir hul honde die volgende slagoffers kan word. Die spore lyk na dié van ‘n bruin hiëna.”

“Butch was ‘n baie liefdevolle hond met sielvolle oë. Hy het ons altyd beskerm. Die laaste deel van sy lewe was hy steeds ‘n gelukkige hond,” het Killian hartseer gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version