Wat om te doen as … jou hond vergiftig word

Nadat 'n man en vrou tydens 'n rooftog by hul huis aangeval en hul honde vergiftig is, het die Herald 'n veearts gevra wat mens te doen staan as jou hond vergiftig word.

In die eerste aflewering van die Wat om te doen as …-reeks, het die Herald by dokter Johan Naude van die Randfontein Dierehospitaal gaan raad vra oor hondevergiftiging.

Hondevergifting is weer op die gemeenskap se lippe, veral na ‘n rooftog by Bootha-plotte waartydens ‘n man geskiet is en die honde vergiftig is.

Johan het vir die Herald vertel dat die dierehospitaal tussen 20 en 30 gevalle van hondevergiftigings per maand kry.

Hy het verduidelik dat die tekens van vergiftiging braking, skuim om die mond en spierrukkings is. Die gif werk so vinnig dat die hond gewoonlik binne ‘n uur nadat hy/ sy die gif ingekry het, doodgaan. As die hond begin braak en ruk, is dit amper te laat vir hulp.

Johan het verder gesê, “As jy sien of vermoed jou hond is vergiftig, probeer soveel moontlik soutwater vir hom of haar ingee. Moet glad nie seepprodukte vir die hond gee nie. Daarna moet die hond dadelik veearts toe geneem word. Ons probeer dan die gif uit die hond se sisteem kry, deur ‘n druppel in sy oog te gooi om hom te laat braak. Dan sit ons die hond op ‘n drup. Net veeartse hou die teenmiddel vir gif aan.”

Die gif is gewoonlik Aldicarb – straatnaam Two step – wat vrylik beskikbaar is. Dit word gewoonlik in brood of Weense worsies weggesteek, en dan oor die perseel se grensmuur gegooi. Dit gebeur dikwels tussen 2vm en 3vm. “‘n Uur later is jou honde dood,” het hy gesê.

Volgens Johan moet mens jou sekuriteitsmaatskappy dadelik ontbied as jou honde vergiftig is aangesien dit beteken dat die misdadigers naby is. Sekuriteitsbeamptes gaan gewoonlik saam met hul kliënte huis toe nadat hulle by die veearts was om seker te maak daar is geen gevaar nie.

Dokter Johan Naude gee raad aan die gemeenskap oor hondevergiftiging.

Johan het verduidelik dat die gif ook gevaarlik is vir mense, en dat mens nie daaraan moet raak nie. Die braaksel met die gif moet ook dadelik met ‘n tuinslang afgewas word, en die ander diere moet ver daarvan wegbly.

“Gewoonlik eet die groot honde dit eerste, word dan naar en braak, dan gaan die kleiner honde en eet die braaksel, en kry so ook die gif in.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version