Riebeeck vier Valentynsdag behoorlik

Van 'n Valentynsbal tot 'n piekniek – Riebeeckrand het die maand van liefde met oorgawe gevier.

Hoërskool Riebeeckrand was onlangs in rooi, wit en blou getooi as deel van hul Valentynsdagvieringe.

Die vieringe het op Saterdag, 11 Februarie met ‘n Valentynsbal vir die leerders begin. Die tema was Liefde wen.

Die Juniorraad was aan die stuur van sake en het reeds vroeg daardie oggend aan die werk gespring om die saal sprokiesmooi in die drie kleure te versier.

Elke leerder het met hul aankoms ‘n melkskommel as ‘n welkomdrankie ontvang. Daarna het hulle gesokkie dat die biesies bewe en hul gate uit geniet. Later die aand is Jacques Olivier en Janéll Rossouw (Graad 10-leerders) onderskeidelik as Mnr en Mej Valentyn gekroon.

Met liggies in die bome en ‘n gesellige vuur wat brand, het leerders ook buite die saal op die grasperk gekuier.

Maar die Valentynsvieringe het nie daar geëindig nie. Op Dinsdag, 14 Februarie het leerders ‘n titseltjie rooi by hul skooldrag aangetrek en ‘n gesellige Valentynspiekniek op die sportveld gehou.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version