CrimeNews

OPVOLG: Poppie-moordsaak eers in 2018 aangehoor?

Die jongste verwikkelinge in die #PoppieMoordSaak is dat nog persone moontlik klagtes in die gesig kan staar en dat die moordsaak dalk eers in 2018 aangehoor sal word.

Die Herald het deur ‘n betroubare bron verneem dat die moordsaak van klein Poppie van der Merwe eers teen middel 2018 in die Pretoriase Hooggeregshof aangehoor kan word.

Daar word verder beweer dat sekere persone wat moontlik Poppie se dood kon voorkom het, ook klagtes van roekeloosheid en nalatigheid in die gesig kan staar. Poppie is op pad na ‘n hospitaal in Brits dood nadat sy glo wreedaardig aangerand is.

Kobus Koekemoer (Poppie se stiefpa) is kort na haar dood gearresteer. Op 24 Januarie het die Herald gerapporteer hoe Kobus Koekemoer op 23 Januarie probeer selfmoord pleeg het, terwyl hy in die tronk was.

In Desember is Louisa Koekemoer (Poppie se ma) ook in verband met Poppie se dood in hegtenis geneem. Die klag teen albei is moord.

Kobus and Louisa Koekemoer het vir die eerste keer op 25 Januarie gelyktydig in die Brits Landdroshof verskyn, waartydens Kobus om regshulp aansoek gedoen het. Die merke waar hy homself na bewering beseer het, kon duidelik op sy polse gesien word.

Die saak is tot 21 Februarie uitgestel.

Op 3 Februarie is ‘n aansoek voor die Brits Landdroshof gebring om Poppie se boetie, Christo van der Merwe, 5, uit ‘n huis van veilgheid te verwyder.

Jacobus Ludick, aktivis vir die Poppie van der Merwe en Christo van der Merwe Support Group het die saak bygewoon en het gesê dat die familie met die hulp van Amanda Maree vir Christo uit ‘n huis van veiligheid wil kry om hom in die sorg van sy ouma en oupa, Carla en Johan van der Merwe te laat terugplaas. Hulle is die ouers van Poppie en Christo se biologiese pa, Christo van der Merwe.

Ludick het verder gesê dat die saak nou op rekord in die Brits Landdroshof is en dat dit tot môre (Vrydag, 17 Februarie) uitgestel is. ‘n Ander persoon wat met die familie verbind word, is glo ook gedagvaar om môre in die hof te verskyn.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook: 

Murdered Poppie: Father and daugter’s heartbreaking phonecall

#PoppieMurderCase – Video and first pic of accused together

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button