Local newsNews

R’fontein Oval Renbaan nooi inwoners vir spesiale dag

Daar is ook V8 Sprints, Midgets en Quads wat deelneem.

Op Saterdag, 11 Februarie, hou die Randfontein Oval Renbaan hulle herdenkingswedren vir die legendariese renjaer Anton Coetzee.

Gedurende die dag en aand gaan daar hope pret wees en al die inwoners van Randfontein, vriende en familie is baie welkom.

Dié renbaan se ontstaan is alles te danke aan Anton, wat baie bekend was vir sy deelname aan wedrenne met sy V8 Sprint. Die plaas waarop die renbaan is, het destyds aan Christo Blaauw behoort. Vroeg in 1996, het Anton vir Christo gevra of hy sy motor voor wedrenne daar kon toets.

Christo het ingestem en in dieselfde jaar het die plaas die tuiste van die renbaan geword. Anton was ook die eerste jaer wat sy renmotor daar bestuur het. Die renbaan is landwyd bekend en het al menige streeks- en SA-kampioene opgelewer. Randfontein is baie bekend vir al die groot name in motorsport, naamlik Ben Morgenrood, Roelf du Plessis, Mackie Adlam en Stephen Smith wat die dorp opgelewer het.

Deon en Marié Coetzee is sedert 2007 die eienaars van die baan, wat onder die WOMZA- (World of Motorsports ZA) vaandel byeenkomste aanbied. Die motors wat meeding is in die 1660-, 2100 Supers-, Tintops- en Flexi-klas. Daar is ook V8 Sprints, Midgets en Quads wat deelneem. Wedrenne vir beginners word daar aangebied.

Eerskomende Saterdag se wedren begin 6nm, maar toeskouers en renjaers is welkom om vroeër te kom. Die doel van die geleentheid is ook om vir Anton te herdenk, en daardeur ook dankie te sê dat die baan sy idee was.

Vir verdere inligting, skakel vir Deon by 081 513 9146 of Andre by 076 941 7763.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button