NewsSchools

Skoolhoof van Jannas groet na 17 jaar

VIDEO: Hoërskool Jan Viljoen se skoolhoof, Julius Katzke, gaan die skool na 17 jaar verlaat. Hoor wat hy te sê gehad het.

“Labore ad Lucem – deur arbeid na lig sal steeds my leuse bly.” Dit was Julius Katzke, Hoërskool Jan Viljoen-skoolhoof se finale afskeidswoorde toe hy op Vrydag 3 Februarie die skool gegroet het waar hy baie jare van sy lewe deurgebring het.

Die skool het ‘n spesiale saalopening aangebied waartydens emosionele leerders vir hom kerse aangesteek het. Selfs die ouers wat die saalopening bygewoon het, het hul oë uitgehuil.

Jannas verloor nie die Katzke-familie finaal nie aangesien Julius se vrou, Almarie, by Jannas aanbly.

Julius is die verpersoonliking van die leuse, “Een maal ‘n Janna, altyd ‘n Janna”. Hy was self ‘n Jannas-leerder en was in matriek die skool se hoofseun. Hy het selfs sy onderwysloopbaan by die skool begin. Hy het later ‘n ander pos aanvaar maar het teruggegaan toe hy die aanstelling as Jannas-hoof gekry het.

Julius Katzke skud hande met 'n Jannas Kamikaze.
Julius Katzke skud hande met ‘n Jannas Kamikaze.

Julius het as skoolhoof 17 jaar van sy lewe vir die skool gegee. “Kyk, ek is hartseer. Jannas is my alles. Ek was my hele lewe lank betrokke by die skool,” het hy gesê.

Volgens die skool word die impak wat Julius oor die jare op die lewens van baie Randfonteiners en hul kinders gehad het, bevestig deur die feit dat hy ‘n leemte by die breër gemeenskap gaan laat. Randfontein neem swaar afskeid van ‘n geliefde gemeenskapsleier.

Sarel Steyn, Jannas-adjunkhoof en VRL-voog is tydens die geleentheid as waarnemende skoolhoof verwelkom.

'n Baie emosionele afskeid tussen Julius Katzke en Jannas President, Jacques van Heerden.
‘n Baie emosionele afskeid tussen Julius Katzke en Jannas President, Jacques van Heerden.

“Die Janna-familie se harte is seer en dit is ‘n groot verlies,” het Sarel gesê. “Hoërskool Jan Viljoen bid dat Julius God se seën in sy nuwe pos sal ervaar.”

Julius begin Maandag, 6 Februarie met ‘n nuwe fase in sy lewe wanneer hy by Hoërskool Florida in Roodepoort aanmeld vir diens.

Almarie en Julius Katzke. Katzke verlaat die skool na 17 jaar as skoolhoof maar sy vrou gaan by Jannas aanbly.
Almarie en Julius Katzke. Katzke verlaat die skool na 17 jaar as skoolhoof maar sy vrou gaan by Jannas aanbly.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees hier:

Janna wees is ‘n fees

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button