Paartjie se geliefde skape gesteel

Vyf skape waarvan twee dragtig is uit paartjie se plot gesteel.

‘n Paartjie van Vleikop is woedend omdat hul vyf skape – waarvan twee dragtig is – van hul plot af gesteel is.

Anton Gones, 42, en Magdelena Strydom, 40, het vertel dat die voorval op Vrydag, 27 Januarie tussen middernag en 3vm plaasgevind het.

Anton Gones en Magdalena Strydom

“My seun het in daardie tyd die honde hoor blaf en opgestaan om te gaan kyk wat aangaan, maar hy het niks ongewoon gesien nie. Daarna was dit doodstil en my seun het aan die slaap geraak,” het Strydom gesê. Sy het verder vertel dat sy soos gewoonlik om 5vm opgestaan het maar toe sy hul beeste – wat veronderstel was om in die kraal te wees – verby die venster sien loop het, het sy geweet iets is fout.

Gones het dadelik gaan ondersoek instel en vasgestel dat al vyf hul skape weg is. Dit was twee dragtige ooie, ‘n klein lammetjie en twee ramme. Hulle twee bokke en vier beeste was nog daar. Strydom het gesê toe hulle na die draad toe stap, het hulle duidelike spore van breë voertuigbande gesien. Hulle is nie seker of dit dié van ‘n bakkie of dalk ‘n taxi was nie.

Sy het ‘n swart mussie by die draad sien lê en daar was skaapwol aan die draad waar die diewe vermoedelik die skape oorgetel het. Gomes het gesê hulle het die skape se bene vasgebind met die tipe lyn waarmee bale gebind word.

Hier is dit duidelik hoe die vee diewe die kraal oopgebreek het en met lyn vasgemaak het. Foto : Ingestuur

Vir Strydom, wat ‘n groot diereliefhebber is, was die skape haar troeteldiere, en sy was baie geheg aan hulle.

Die paartjie het ‘n saak by die Randfontein Polisie geopen, wat die saak aan Vereeniging se Veediefstaleenheid oorhandig het.

Volgens Gones kom vee- en windpompdiefstal dikwels in hul area voor. Hy het vertel dat hy ‘n week tevore vier of vyf verdagte persone in die pad voor hulle huis gewaar het.

“As hulle die vee te voet aangejaag het, sou ons nog ‘n kans gehad het om hulle op te spoor, maar siende dat hulle ‘n voertuig gebruik het, is ons kanse om die diewe op te spoor ongelukkig baie skraal,” het Strydom gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Stock theft a headache for R’fontein farmers

Ward councillor a victim of stock theft

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version