CrimeNews

Boerekosrestaurant geteiken – eienaar veg terug

Groot drama in boerekosrestaurant in Homelake toe kaalkop man glo die plek wou besteel.

Grootjie se Kombuis, ‘n boerekosrestaurant in Homesteadlaan is Maandag, 30 Januarie net na 10vm byna beroof.

Ongelukkig vir die beweerde krimineel het een van die eienaars, Gavin Wilson, teruggeveg.

Liezel Lotriet, 30, Wilson se stiefdogter het die Herald van gisteroggend se drama vertel.

Brawe Liezel Lotriet, wat die verdagte agtervolg het, by die venster waardeur die kaalkop man geklim het.
Brawe Liezel Lotriet, wat die verdagte agtervolg het, by die venster waardeur die kaalkop man geklim het.

Lotriet was in daardie stadium op pad agter toe om voorraad te gaan haal, onbewus daarvan dat Wilson op ‘n onbekende kaalkop man in hul restaurant afgekom het wat besig was om ‘n skootrekenaar te probeer steel. Wilson en die onbekende man het mekaar fisies toegetakel. Wilson het die indringer op die vloer vasgepen waar die onderonsie glo ‘n ruk lank geduur het. Lotriet het vertel dat haar stiefpa tydens die geveg sy bril verloor het, maar die onbekende man het sy kop gestamp en sy langbroek is geskeur. Die indringer het toe deur die venster – waardeur hy ingesluip het – buite toe geval.

Brawe Liezel Lotriet, wat die verdagte agtervolg het, by die venster waardeur die kaalkop man geklim het.
Brawe Liezel Lotriet, wat die verdagte agtervolg het, by die venster waardeur die kaalkop man geklim het.

Ida Wilson, Gavin se vrou en mede-eienaar, het die geraas gehoor en dadelik die paniekknoppie gedruk. ‘n Brawe Liezel Lotriet het die man met haar motor agternagesit en haar man, Carlo in kennis gestel, wat ook gou op die toneel was. Wynand Benson van Mapogo Sekuriteit was binne 30 sekondes op die toneel. Die Randfontein Polisie was ook op die toneel.

“Vier motors het die man met die wit hemp aan agtervolg. Hy het nie eers weggehardloop nie, net weggestap,” het Carlo gesê. Ongelukkig het hy soos mis voor die son verdwyn. Liezel het verduidelik dat die man glo ‘n wit hemp en langbroek aangehad het en dat hy kaalkop is.

Wilson het ligte beserings opgedoen toe hy ‘n vuishou op die wang gekry het.

Liezel het gesê dat hulle nog nie bewus is van iets wat gesteel is nie. Daar was glo in die nege maande wat die restaurant bestaan, slegs een voorval van misdaad toe ‘n selfoon gesteel is.

Die familie is nou besig om sekuriteit in hul restaurant te verskerp. Hulle is baie dankbaar teenoor Mapogo Sekuriteit.

“Die Here het waarlik Sy hand oor ons gehou,” het Liezel gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button