NewsSchools

Terugslae kry Sasha-Lee nie onder

Die Herald gesels met een van Hoerskool Riebeeckrand en die land se top matriekleerders van 2016.

Sasha-Lee Roestorff is een van Hoërskool Riebeeckrand en die land se top presteerders in die matriekklas van 2016.

Sasha-Lee en Vicky du Buisson is die twee leerders wat ‘n fantastiese 11 onderskeidings elk behaal het. Sasha-Lee se storie is een uit ‘n duisend. Sy het ‘n terugslag of twee ervaar maar dit het haar steeds nie ondergekry nie. Sy word beskou as ‘n inspirasie.

Die onderhoofmeisie van 2016 het in ‘n woonstel gebly wat in haar matriekjaar aan die brand geslaan het. Hulle het glo alles verloor. Sy het vertel dat haar waardevolste besittings in die brand vernietig is – al haar sertifikate en foto’s van haar grootwordjare. Sy het verduidelik dat die besittings 18 jaar se herinneringe insluit – iets wat geld nie kan koop nie. Die oorsaak van die brand is nog onbekend.

Om dit te verwerk het sy op literatuur gefokus want volgens haar het dit darem “… die pyn stil gemaak”.

Sasha-Lee is tans in Stellenbosch waar sy ‘n nuwe fase in haar lewe betree. Sy is besig om aktuariële wetenskappe te studeer en sy wil eendag as ‘n internasionale aktuaris kwalifiseer en praktiseer. Haar doelwit is ‘n betekenisvolle pos in die wêreldbankwese.

Die Herald het die trotse voormalige leerder van Laerskool Randfontein (Ram) gevra hoe sy haarself deur haar matriekjaar gemotiveer het.

“Ek het gemotiveerd gebly omdat ek nie bereid was om vinnig tou op te gooi of al my harde werk deur die jare sommer net weg te gooi nie. Die Here het talle dinge op my pad geplaas wat my ook gemotiveer het.”

Sy het vertel dat sy wonderlike onderwysers gehad het wat regtig uit hul pad gegaan het om van haar matriekjaar ‘n sukses te help maak en haar op alle gebiede te ondersteun. Hulle het haar moed ingepraat en selfs haar perfekste matriekafskeid beplan en ‘n realiteit gemaak. Hulle het haar selfs na haar tandartsafsprake vervoer en nog baie meer vir haar gedoen.

“Riebeeckrand se onderwysers het my hand gevat en my weer opgetel. My ma het ook toegesien dat ek nooit moed opgee nie en sy het my gemotiveer deur my altyd te ondersteun en oor die wenstreep te druk wanneer dit nodig was. My ma was my anker,” het Sasha-Lee vertel.

Sasha-Lee het tot in Graad 9 netbal gespeel en oor die jare aan talle kultuuraktiwiteite deelgeneem. Sy het in haar matriekjaar aan Afrikaanse groepredenaars deelgeneem en hulle is aangewys as die beste senior Afrikaanse redenaarspan in die skool.

Sy het gesê haar motto in die lewe is, “Beskerm jou hart”. Sy het ook goeie raad vir die 2017-matrieks. “Probeer altyd fokus behou. Daar is nie tyd om op jou louere te rus nie. Jou voorbereiding vir die eindeksamen begin vanaf dag een. Onthou altyd dat jou hulp van Bo kom en plaas jou vertroue in Hom. Liewe Jesus is reeds by die eindeksamen.”

Die lied, Rise deur Katy Perry is haar gunsteling.

Die Herald het haar gevra of sy verwag het dat sy 11 onderskeidings sou kry, waarop sy geantwoord het, “Nee ek het nie”.

Op die vraag hoe sy voel om uit Randfontein te wees, het sy geantwoord dat sy al haar familie en vriende mis, maar dat dit ook verfrissend is om ‘n bietjie weg te wees en nuwe dinge en plekke te sien en te beleef.

Haar gunsteling boek is Krismis van Map Jacobs deur Adam Small en die persoon na wie sy die meeste opkyk is Zehanka (Crafford) van der Berg – een van haar beste vriendinne se sussies. Haar gunsteling reeks op televisie is Grey’s Anatomy en haar gunsteling rolprent is Ballade vir Enkeling.

“Ek sien myself oor vyf jaar steeds besig om te studeer, hopelik na my internasionale kwalifikasie en gevestig in ‘n wêreldklasmaatskappy, en betrokke by baie gemeenskapswerk en liefdadigheidsentrums. Ek wil graag ‘n betekenisvolle rol speel vir my medemens,” het sy gesê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button