Drie staatshospitale, en ek lewe!

Staatshospitale kom tot die redding van 'n 57-jarige man wat 'n hartaanval gehad het.

Martin Corneelsen, 57, het op 14 Oktober verlede jaar ‘n pyn in sy bors en arm gekry, waarna hy in drie verskillende staatshospitale opgeneem is.

Marietjie Corneelsen, met wie hy reeds 30 jaar getroud is, het sy storie aan die Herald vertel.

Martin was vir 20 jaar ‘n tuinboukundige by die Randfontein Munisipaliteit. Nadat Martin ‘n pensioentrekker geword het, kon hulle nie meer ‘n mediese fonds bekostig nie. Hulle het na Randgate verhuis waar hy verf- en herstelwerk aan hul nuwe huis gedoen het.

Op daardie spesifieke dag het hy vir Marietjie gesê, “Ek het pyn in my bors en my arm, en ek voel verskriklik naar.” Marietjie het gesien dat die sweet hom afgetap het. Voor die gebeure was Martin se gesondheid goed, en sy gewig en bloeddruk was onder beheer. “Ons het egter nie geweet sy cholesterol was so hoog nie,” het Marietjie gesê.

Marietjie Corneelsen, met ‘n foto van Martin wat so puik in die staatshospitale behandel is.

Marietjie het haar man dadelik na dokter Piet Steenkamp in Helikonpark geneem. Hy is al 25 jaar lank hul dokter. Steenkamp het ‘n EKG op hom gedoen en vir Marietjie gesê dat sy dadelik vir Martin na Dr Yusuf Dadoo Hospitaal in Krugersdorp moes neem.

Toe ons daar aankom het dit maar rof gelyk, maar hulle het dadelik sy bloeddruk en cholesterol nagegaan. Martin was ook verskriklik gestres. Die personeel het gou ‘n ambulans van Leratong Hospitaal ontbied, waarvoor ons so ‘n uur en ‘n half gewag het,” het Marietjie vertel.

Die personeel by Leratong was puik. Die dokters het hom ondersoek en dadelik die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospital gebel om hom te kom haal, aangesien hulle die beste toerusting het om Martin te versorg. Hy is toe na die intensiewesorg-eenheid oorgeplaas.

“Charlotte Maxeke Hospitaal was puik. Daar was ‘n Griekse vrouedokter en ‘n dokter van so in sy 30’s, wat reggestaan het met Martin se aankoms. Die Griekse dokter het hom dadelik van kop tot tone met haar hande ondersoek. Na ‘n hartsonar is daar bevind dat daar nie klonte in sy longe was nie, maar dat daar wel skade aan sy hart was.

Die dokter het vir Martin gesê,

Only God protected you”.

Marietjie het spesifiek ‘n manlike suster, Jerry, bedank wat die hele aand langs Martin gesit het en hom opgepas het. Marietjie het hom elke uur op sy persoonlike nommer gebel om uit te vind hoe dit met haar man gaan.

Marietjie het bygevoeg dat dit ‘n wonderwerk van God was en dat die hospitale puik diens gelewer het.

Die Herald het vir Martin gevra hoe hy nou voel, waarop hy geantwoord het dat hy nou reg eet, nie rook nie en ‘n gesonde lewe ly. “Ek wil nie afgeneem word nie,” het hy gesê. “Deur God se werk staan ek hier vandag. Die regte mense moet bedank word.”

Marietjie het bygevoeg, “My man is my hartklop …”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Man, 52, oorleef varkgriep

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version