CrimeNews

Man, 51, aangerand vir vuurhoutjies, sigarette

Inwoner vertel hoe hy op een dag beroof is deur een boef, en aangerand is deur 'n ander.

Op Saterdag, 17 Desember was ‘n Culemborgpark-inwoner, die ongelukkige slagoffer van afsonderlike insidente –een van roof, en die van aanranding.

Volgens Norman Visser, die 51-jarige slagoffer, was hy omstreeks 9nm op pad terug van ‘n winkel naby Westcol College waar hy sigarette gaan koop het.

“Toe ek terug huis toe loop het ‘n vreemdeling vir my gevra of ek vir hom ‘n ‘light’ het. Ek het my hand in my sak gesteek om vir hom vuurhoutjies uit te haal en toe ek weer sien, skop hy my voete onder my uit,” het hy vertel.

Verder vertel Visser dat die vreemdeling hom daarna beroof het van alles wat hy by hom gehad het. Dit sluit in ‘n horlosie, R35, ‘n pakkie sigarette, ‘n blikkie deodorant en twee dosies vuurhoutjies.

IMG_3102_59193

“Hy het dit so vinnig gedoen; sommer ‘chop-chop’. Na twee minute was hy klaar met my,” het hy gesê.

Maar ongelukkig was dit nog nie al nie. Hy het verduidelik hoe hy sukkelend en verward opgestaan en verder geloop het, waar nóg ‘n rower hom toe inwag by ‘n volgende hoek.

“Ek het amper dadelik in nog ‘n rower vasgeloop. Hy het my gevra vir my besittings, en nadat ek gesê het dat ek niks het nie, het hy my begin aanrand,” het Visser vertel.

Hy sê hy is aangerand met iets wat lyk soos ‘n polisiestok. Na die tweede hou het hy neergeval. Daarna het die rower hom baie hard geskop en toe verdwyn hy.

“Ek is ‘n pensioenaris; ek is reeds kwesbaar, ek sidder om te dink hoe erg dit vir ‘n vrou moet wees. Daarom wil ek graag van hierdie geleentheid gebruik maak om alle inwoners te waarsku om ekstra waaksaam te wees. ‘n Mens verwag dit glad nie,” het Visser vertel.

Verder meen hy dat alle inkopies en soortgelyke goed gedurende die dag gedoen moet word wanneer dit effens veiliger is.

IMG_3100_41277

Lees ook

Tenacres moord opvolg

Geloof en hoop dra hulle

Jong man op sy verjaarsdag doodgesteek

“Ek het alles probeer om sy lewe te red”

Related Articles

Back to top button