Vriendskaptuiste vier hul 50ste!

Hulle het nie net die ouetehuis se bestaan gevier nie, maar ook hulde gebring aan die mense wat dit help bou het.

Vere, strikdasse, kantrokke en blink skoene; daarmee is die 50ste verjaarsdag van Vriendskaptuiste met die sestigerjare as tema gevier.

Op Vrydag, 9 Desember is daar met vermaak en lekkernye behoorlik fees gevier by dié ouetehuis. Elbie Botha, voorsitter van die ouetehuis, het verduidelik dat hulle nie net die ouetehuis se bestaan vier nie, maar ook hulde bring aan die mense wat dit help bou het, veral haar oorlede oom.

“Ons vier ook my oorlede oom se betrokkenheid. Hy het ‘n baie groot rol gespeel in die letterlike en figuurlike bou van die ouetehuis.

Hy was bekend vir sy strikdas; daarom het ons vir al die mans gevra om strikdasse te dra ter herinnering,” het sy vertel.

Vir Elsie Kitching, die langslewende komiteelid wat betrokke was by die bou en ontwikkeling van Vriendskaptuiste, is die viering egter nog meer spesiaal gemaak.

“Tannie Elsie se man, my oom, het in die 1960’s ‘n Ford Thunderbird ingevoer, waarop hy baie trots was. My oom het sy lewe toegewy aan daardie kar,” het sy vertel.

Sy het verder verduidelik dat hy die kar ongeveer 30 jaar terug verkoop het. Aangesien Elsie ongelooflik baie sentimentele waarde heg aan dié antieke motor het Elbie besluit om die huidige eienaar daarvan op te spoor en haar tannie daarmee te verras.

“Ek het dit reggekry om die eienaar op te spoor en tot my verbasing bly hy net hier in Randfontein. Ek is so dankbaar; hy was meer as gewillig om die motor vir my tannie te kom wys,” het Elbie verduidelik.

Talle inwoners van Vriendskaptuiste het die viering geniet en dié onthou wat dit gebou het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version