Mej JHB besoek Vriendskaptuiste

'Terwyl ek met my ouma gesels het, het ek besef hoeveel oumas en oupas dalk nie eens kinders of kleinkinders het wat hulle kan bederf vir Kersfees nie. Hoeveel oumas en oupas is nie net alleen nie?'

Vriendskaptuiste-ouetehuis se inwoners is onlangs verras met boeke, naellak, koek en goeie bedoelings.

Op Maandag 5 Desember het Phenice le Roux, Mej Johannesburg 2016, die inisiatief geneem om dié ouetehuis te besoek en sodoende terug te gee aan die gemeenskap.

Phenice le Roux deel boeke uit. Foto: Alanicka Lotriet.

“Terwyl ek met my ouma gesels het, het ek besef hoeveel oumas en oupas dalk nie eens kinders of kleinkinders het wat hulle kan bederf vir Kersfees nie. Hoeveel oumas en oupas is nie net alleen nie?” het sy vertel.

Sy het verduidelik dat sy ‘n boks boeke gehad het wat sy graag aan ‘n ouetehuis wou oorhandig, maar sy moes nog die mees gepaste ouetehuis identifiseer.

Phenice gesels en verf naels. Foto: Alanicka Lotriet.

“Een van my kliënte het oor Vriendskaptuiste begin praat sonder dat sy bewus was van my projek, en ek het besluit om vir hulle te gaan kuier,” het Phenice gesê.

Sy meen al kan sy nie ‘n kleindogter se plek inneem nie, wil sy steeds haar bes probeer om iets te doen wat die inwoners spesiaal sal laat voel vir Kersfees.

Phenice oorhandig ‘n boek aan Mimi Munnik. Foto: Alanicka Lotriet.

Al die inwoners is genooi om saam met Phenice ‘n stukkie koek te geniet terwyl sy boeke uitdeel, naels verf en sommer net lekker geselsies aangeknoop het.

“Dit was werklik ongelooflik om dit vir hulle te kon doen. Ek weet die Here het met my gepraat, want alles het net so mooi in plek geval,” het sy ten slotte vertel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Exit mobile version