Local newsNews

Wiele aan die rol vir 31ste Skou

Organiseerders gee 'n voorsmakie van wat besoekers by die 2017 Randfontein Skou kan verwag.

Wat 30 jaar gelede as iets klein in Randfontein begin het, is vandag ‘n skou vir die hele streek en een van die gewildste sake- en sosiale ekstravaganzas aan die Wes-Rand.

Die 31ste Randfontein Skou, beter bekend as ‘die lekkerste kuierskou’, word volgende jaar van Donderdag, 2 Maart tot Sondag, 5 Maart by die Greenhills Sportstadion aangebied.

Daar is ook ‘n spesiale kindervermaakarea waar kinders lekker sal kan baljaar en die narre ontmoet. Foto ingestuur.
Daar is ook ‘n spesiale kindervermaakarea waar kinders lekker sal kan baljaar en die narre ontmoet. Foto ingestuur.

Ongeveer 45 000 besoekers kuier gewoonlik oor die vier dae by die skou om talle van Suid-Afrika se topklas musiekkunstenaars in die verskillende vermaaklikheidsareas te sien optree. Die skou bied ook ‘n wye verskeidenheid van stalletjies en liplekker kos – beslis iets vir elke ouderdomsgroep en smaak.

Besoekers kan by die 2017 Skou uitsien na vertonings deur Bobby van Jaarsveld, Adam Tas, Riana Nel, Jay & Lianie, Refentse, Brenden Peyper, Ricus Nel, Touch of Class, Saarkie, 4Werke, Liza Brönner, Luvono, Linda Kilian, Gert Koevert, Rinel Day, Riaan Grobler, Gavin Edwards (The Voice) en Irene-Louise van Wyk.

Besoekers kan by die 2017 Skou uitsien na onder andere ‘n mini-sirkus, go-karts, boogskiet, rotsklim en mallemeule. Foto ingestuur.
Besoekers kan by die 2017 Skou uitsien na onder andere ‘n mini-sirkus, go-karts, boogskiet, rotsklim en mallemeule. Foto ingestuur.

Lollos en Clarice & Die Reënboogkids kom vir die kinders kuier. Daar is ook ‘n spesiale kindervermaakarea waar kinders lekker sal kan baljaar en die narre ontmoet.

Marno van der Merwe is die gaskunstenaar by die 10de Pom-Pom-kompetisie op 2 Maart, wat altyd honderde toeskouers lok. Die spreker by die Wêreld Biddag vir Vroue op Vrydagoggend 3 Maart, is Jana du Plessis wat haar stryd teen kanker gewen het. Dewald Gouws bedien Sondagoggend, 5 Maart die Woord in sang en musiek. Liefdesoffergawes gaan aan Kansa en Hospice geskenk word.

Ongeveer 45 000 besoekers kuier oor die vier dae by die Skou. Foto ingestuur.
Ongeveer 45 000 besoekers kuier oor die vier dae by die Skou. Foto ingestuur.

Nog vermaak sluit in motocross-toertjies, hondeskoue, kameelritte, sterkmandemonstrasies, rofstoei, waterballe, ‘n mini-sirkus, go-karts, boogskiet, rotsklim en mallemeule.

Volgens Joy Hamann, woordvoerder van die Randfontein Publisiteitsvereniging, bied die Randfontein Skou waarde vir geld en is ‘n egte familieskou.

“Teken die datum in jul dagboeke aan en kom besoek ons gerus,” het sy genooi.

Die volledige program sal van einde Januarie 2017 af beskikbaar wees by www.randfonteininfo.co.za.

• Navrae: Skakel die Skoukantoor by 011 412 2878 of 011 412 1562.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

 

Related Articles

Back to top button