CrimeNews

Vermeende inbreker in W’aria doodgeskiet

'n Vermeende inbreker is in Westonaria dood in 'n oor-en-weer-skietery met EPR Sekuriteit.

‘n Vermeende inbreker is in Westonaria dood in ‘n oor-en-weer-skietery met EPR Sekuriteit.

Die skietgeveg het gevolg op ‘n inbraak by ‘n besigheidsperseel in Briggsstraat, Westonaria om 4.40vm op Dinsdag, 8 November.

Volgens Johan Booysen, EPR Besturende Direkteur het reaksieoffisier Heinrich van Biljon gereageer nadat EPR ‘n alarmsein van die betrokke perseel af ontvang het.

Booysen het vertel dat Van Biljon op die perseel opgemerk het dat ‘n gedeelte van die plafon stukkend was en het onmiddellik onraad vermoed. Hy het hul beheersentrum versoek om die eienaar van die besigheid te kontak sodat hulle toegang tot die hele perseel kon kry om verder ondersoek in te stel.

Later het ‘n verdagte vanuit die plafon gespring en Van Biljon het hom agterna gesit met die doel om hom te arresteer. In die proses het ‘n struweling tussen Van Biljon en die verdagte ontstaan.

Van Biljon het op sy handradio om bystand gevra en binne sekondes het reaksieoffisiere Richard Grade, Willem Bruwer en JD Drostky opgedaag. Adriaan Fritz, EPR se taktiese bestuurder was ook daar.

Die verdagte het op die vlug geslaan en is agterna gesit deur die reaksieoffisiere om hom te arresteer. Die verdagte het op die reaksieoffisiere begin vuur, waarop hulle uit selfverdediging teruggeskiet het,” het Booysen gesê.

Booysen het verduidelik dat die verdagte in die oor-en-weer-skietery noodlottig gewond is. Die toneel is aan die Westonaria Polisie oorhandig vir verdere ondersoek.

“Reaksieoffisier Van Biljon is hospitaal toe geneem weens die geringe beserings wat hy tydens die struweling met die verdagte opgedoen het. Ons is baie trots op ‘n span wat onder druk kan funksioneer en wat op ‘n daaglikse basis hul lewens vir ons kliënte en hul eiendom op die spel plaas. Welgedaan aan almal wat betrokke was,” het Booysen gesê.

Lees ook

Een inbraak teveel

Moontlike sindikaat merk huise vir beplande inbrake

Related Articles

Back to top button