Local newsNews

Seun se hartroerende boodskap aan oorlede pa

'Ek wens Pappa kon my nou sien … Ek mis Pappa' – seun, 4, skryf brief aan sy pa wat in 'n motorfietsongeluk gesterf het.

Na sy geliefde pa se tragiese dood het ‘n vierjarige seun met die hulp van sy ma ‘n hartroerende brief geskryf.

Jayden Startup se pa, Benjamin ‘Bennie’ Antonie Van Wyk-Bouwer, 26, is dood nadat hy Saterdag, 6 Augustus in ‘n motorfietsongeluk op die R28 naby Neptunusstraat in Westonaria betrokke was.

Volgens Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder word vermoed dat ‘n kar Van Wyk-Bouwer se motorfiets getref het. Paramedici het vertel dat hulle hom in die pad aangetref het met lewensgevaarlike beserings. Volgens sy ma, Isobel Bouwer, het Van Wyk-Bouwer se broer die ongeluk gesien.

Paramedici het Van Wyk-Bouwer probeer stabiliseer en het hom op die toneel aan ‘n ventilator gekoppel. Later het hulle hom per helikopter hospitaal toe vervoer, maar hy is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar.

“Om ‘n kind te verloor … jy vergeet nooit nie. Nooit nie. Jou kind se wese resoneer deur elke dag se aktiwiteite,” het Isobel gesê.

Geraldine Startup, Jayden se ma, probeer hom laat verstaan dat sy pa nie gaan terugkom nie, maar Jayden is nog te jonk.

“Ek probeer om sy vrae so goed ek kan op sy vlak te beantwoord,” het sy gesê.

Van Wyk-Bouwer se dood laat ‘n leemte by al die mense wie se lewens hy geraak het – sy familie, vriende en veral die seuntjie wat nie die geleentheid gehad het om hom te leer ken nie.

Hier is die brief wat Jayden aan sy pa geskryf het:

Ek wens Pappa kon my nou sien … Ek mis Pappa. Dis al ‘n maand en ‘n paar weke wat Pappa by Liewe Jesus is. Ek weet nie hoekom Liewe Jesus Pappa kom haal het nie. Dalk sodat ek en mamma die moeilike dinge van die lewe kan hanteer.

Mamma sê Pappa is veilig en dat Pappa my baie liefies. Ek doen nou al huiswerk Pappa. Kan Pappa my sien?

Ek swing al by myself maar mis dit as Pappa daar staan en my swaai.

Ek verstaan nie hoekom Pappa nie huis toe kom, kom kuier of met my praat as ek met Pappa praat nie maar mamma sê Pappa luister en praat met mamma om my te sê.

Ek liefies vir Pappa. Ek sien Mamma baie huil, maar ek staan by mamma as sy huil, kan Pappa sien?

Ek lees nou Bybel, want dis waar Pappa is. Pappa is die beste. Ouma Bella en Oupa Ben mis jou baie.

 

Lees ook:

Man sterf in gru-ongeluk

Sy gunsteling dinge was braai en bike

 

Related Articles

Back to top button