Local newsNews

Jonathan tref die grootskerm in Desember

Die gewilde internetsensasie, Jonathan van Radio Raps-faam se film op 2 Desember landswyd in fliekteaters.

Die bekroonde vervaardiger, skrywer en regisseur Sallas de Jager se nuutste rolprent, Jonathan, begin hierdie Desember landswyd in fliekteaters draai.

Dit is die eerste keer dat Sallas sy hand aan komedie waag.

Sallas is veral bekend vir periodedramas soos Verraaiers, Roepman en meer onlangs, Free State, wat regoor die wêreld tydens filmfeeste vertoon is en ook ’n paar internasionale toekennings ontvang het.

Die film is geïnspireer deur die gewilde internetsensasie Jonathan van Radio Raps-faam. Dit is ook Rikus de Beer – die man agter die skreeusnaakse en geliefde Jonathan-karakter – se debuut op die grootskerm.

“Suid-Afrikaners kan hulself regmaak vir ’n skreeusnaakse rolprent stampvol insidente wat jou nog gaan laat giggel vir weke na jy die film gesien het. Dis ‘n komedie wat jou sal laat hardop lag, tesame met ‘n coming of age storie waarby almal aanklank sal vind,” het Sallas gesê.

Behalwe vir Rikus de Beer sluit die rolverdeling legendariese en bekroonde akteurs in, soos Brümilda van Rensburg, Paul Eilers, Anel Alexander, Jacques Bessenger, Eric Nobbs, Rika Sennett, Albert Pretorius, Frank Opperman, Lizz Meiring en Beáte Opperman.

Die film vertel hoe Jonathan sy eerste tree in die grootmenswêreld moet gee, nadat hy op die ryp ouderdom van 30 uit sy ouers se huis moet trek.

Jonathan begin landswyd op 2 Desember 2016 in fliekteaters draai en word uitgereik deur Fresh Flieks/ Times Media Films.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button