Riebeeckrand ryg die ATKV-toekennings in

Hoërskool Riebeeckrand tops tydens ATKV-tienertoneelkompetisie.

Vanjaar het Hoërskool Riebeeckrand gespog met twee toneelgroepe wat aan die ATKV-tienertoneelkompetisie deelgeneem en uitmuntend presteer het.

Die eerste toneelgroep, Beroemd, het op 1 Augustus hul toneelstuk in Potchefstroom opgevoer. Daar het die veelsydige Beloved Sechele tydens die prysuitdeling ‘n individuele toekenning as uitstekende aktrise ontvang.

Die ander toneelgroep, Opgeskort, het op 19 Augustus in Roodepoort deelgeneem. Die groep het tydens die prysuitdeling talle toekennings ontvang, onder andere ‘n spesiale toekenning vir die algeheel beste produksie asook toekennings vir onderskeidelik die teks en regie. Twee leerlinge, David Kuduntwane en Cassley-Ann Solomons het bo die res uitgestaan en het elkeen ‘n toekenning ontvang.

Leona Esterhuyse, ‘n Riebeeckrand-personeellid het albei toneelstukke geskryf en die leerlinge afgerig. Sy het gesê dat die toekennings wat tydens die ATKV-tienertoneelkompetisie ontvang is, haar verwagtinge oortref het.

Sanet Smith, ook ‘n Riebeeckrand-personeellid het alle tegniese aspekte van die toneelstukke behartig en laat vlot verloop. Almal wat by die skool betrokke is, voel hulle is baie gelukkig en geseënd om sulke talentvolle personeellede te hê.

Ander skole wat aan die kompetisie deelgeneem het, sluit in Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Jan Viljoen, Hoërskool Linden, Hoërskool Monument en Hoërskool Noordheuwel. Dit is voorwaar ‘n besonderse prestasie om ‘n toekenning by die ATKV-tienertoneel te ontvang omdat die kompetisie baie straf is.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version