Merke, gereed, spaar nou al vir Skou

Spaar nou al en wen groot met die 2017 Randfontein Skou.

Met slegs sewe maande oor voor die 2017 Randfontein Skou weer begin, is dit dalk nou ‘n goeie tyd om te begin spaar.

En as jy dit volgens die Randfontein Skou-koördineerders se metode doen, kan jy groot pryse wen. Hulle het dit daarom goedgedink om skoubesoekers aan te moedig om nou al op ‘n unieke manier te begin spaar.

“Ons vier ons 31ste skou en wil dit sover moontlik bekostigbaar maak vir skoubesoekers om die skou meer as een keer te besoek,” het Marcelle Mans, die skou-koördineerder gesê.

“Die gemeenskap het die 2016 Randfontein Skou Spaarblikkie Projek baie goed ondersteun, daarom wil ons weereens ons kinders en volwassenes die geleentheid gee om te spaar vir die volgende ses maande om sodoende meer fondse beskikbaar te hê vir die mallemeule ritte, elke dag se top vermaak en smullekker kos. Om te spaar is ‘n goeie dissipline en daar is ‘n groot beloning. Drie groot, wonderlike pryse kan gewen word as jy ‘n skou spaarblikkie koop,”

Heinrich en Talita Steyn spaar reeds vir volgende jaar se skou. Foto ingestuur.

Die pryse is genoeg om enige lojale skoubywoner aan te moedig. Die eerste prys, ter waarde van ‘n enorme bedrag van R1 040, sluit in vier toegangskaartjies vir elke dag van die skou asook tien mallemeule kaartjies. Die tweede prys, ter waarde van R 840, behels vier toegangskaartjies vir twee dae van die skou, asook tien mallemeule kaartjies. Die derde prys, ter waarde van R500, is 20 mallemeule kaartjies.

Talle veelkleurige skou-spaarblikkies sal beskikbaar wees vanaf 1 September 2016 tot 24 Februarie 2017, teen R15 elk. Dit kan aangekoop word by die skoukantoor te Greenhills Sportstadion.

Die wenners sal aangewys word op 24 Februarie 2017 tydens ‘n gelukstrekking. ‘n Naamlys van blikkies wat gekoop word sal gehou word.

Vir meer inligting oor die 2017 Randfontein Skou (vanaf Donderdag, 2 Maart tot Sondag, 5 Maart), besoek gerus www.randfonteininfo.co.za of gesels saam op die Randfontein Skou Facebook blad.

Indien daar enige navrae is, skakel gerus die skoukantoor op 011 412 2878/1562 of stuur ‘n epos aan joy@randfonteininfo.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version