Local newsNews

Sopkompetisie ten bate van slagoffers

'Die beoordelaars sluit in Bertha le Roux (Emma van 7de Laan), Anrich Herbst (Wimpie van Orkney Snork Nie) en 'n spesiale gas van Kokkedoor.'

Matla A Bana, ‘n liefdadigheidsorganisasie wat tydens die Randfontein Skou se Wêreldbiddag vir Vroue ‘n begunsdigde was, het besluit om weereens ‘n fondsinsameling te hou.

Nadat hulle groot baat gevind het by die Wêreldbiddag wou hulle op dieselfde wyse hul volgende damestee aanpak. Hulle het besluit om in die plek van hul gewone fondsinsameling eerder ‘n sopmaak-kompetisie te loods waartydens vroue hul kookvaardighede vir liefdadigheid ten toon kan stel.

Die Soup Diva-kompetisie word op Saterdag 27 Augustus van 11.30vm tot 3nm by die Mosaïek Lifestyle-sentrum in Fairland gehou.

Lizel van Eeden, projekbestuurder van die liefdadigheidsorganisasie Matla A Bana.
Lizel van Eeden, projekbestuurder van die liefdadigheidsorganisasie Matla A Bana.

Daar word van gasvroue verwag om ‘n sopdis vir hul gaste en vyf bekende beoordelaars voor te berei. Die beoordelaars sluit in Bertha le Roux (Emma van 7de Laan), Anrich Herbst (Wimpie van Orkney Snork Nie) en ‘n spesiale gas van Kokkedoor.

Skilderye van bekende kunstenaars, ontwerperuitrustings en ‘n oormaaksessie sal as pryse aan die top drie Soup Divas toegeken word. Daar sal ook pryse vir die beste tafel en ‘n gelukstrekking wees.

“Fondse gaan gebruik word om kindervriendelike fasiliteite in regsgeboue in te rig en onder andere troospakkies vir minderjarige slagoffers van misdaad, verkragting en geweld saam te stel,” het Lizel van Eeden, projekbestuurder gesê.

“Dit hou verband met die Matla A Bana-naam wat ‘Krag vir die Kinders’ beteken.”

Die organisasie is deur Monique Strydom gestig nadat sy in die jaar 2000 vir vier maande deur die terroristegroep Al Qaeda gyselaar gehou is. Die oggend toe sy vrygelaat is, het sy ‘n belofte gemaak dat sy Suid-Afrikaners sal help en haar lewe aan hulle sal toewy. Die fonds, wat gestig is as ‘n stem teen kindermishandeling, het al verskeie nasionale liefdadigheidskompetisies gewen. Hulle help jaarliks duisende kinders deur die regstelsel.

Lizel van Eeden, projekbestuurder van die liefdadigheidsorganisasie Matla A Bana.
Lizel van Eeden, projekbestuurder van die liefdadigheidsorganisasie Matla A Bana.

• Navrae: Lizel van Eeden by 073 171 1031.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button