Dwelms en aanranding twee probleme onder R’fonteiners

Sosio-terapeut: Ek het al verskriklike goed gesien en beleef, maar ek kon nog nooit ophou om die werk te doen waarvoor ek lief is nie.

Bekende sosio-emosionele terapeut, Dr Annelize Naude, het dwelmmisbruik onder jongmense en aanranding van bejaardes as die twee hoof sosiale probleme in Randfontein geïdentifiseer.

Sedert Oktober verlede jaar het sy talle kliënte tydens terapiesessies geanaliseer. Sy meen die eerste sosiale ongeregtigheid wat Randonteiners ervaar is dwelmmisbruik onder jongmense.

Dr. Annelize Naude, ‘n sosio-emosionele terapeut, het Randfontein toe getrek nadat sy die emosionele nood van die dorp se inwoners raakgesien het.

“Jongmense voel hulpeloos en gebruik dan dwelms om hul seer op te los. Dit veroorsaak emosionele trauma, verkragting en vele ander sosiale ongeregtighede wat weereens ‘n gevoel van hulpeloosheid skep. ‘n Bose kringloop word dus gevorm,” het sy gesê.

Sy meen jongmense wat trauma beleef kort iemand om hul seer mee te deel, sodat hul dan kans sal sien om aan te hou baklei vir ‘n beter lewe.

“Die tweede ongeregtigheid in ons dorp is die aanranding van bejaardes.”

Sy vertel hoe sy meer as vier bejaarde kliënte wat fisies aangerand was in ‘n enkele maand behandel het. Sy meen dit is bitter hartseer vir haar dat mense dink dis ‘n teken van swakheid as mense vir emosionele steun vra.

Dr Annelize Naude, ‘n sosio-emosionele terapeut, het Randfontein toe getrek nadat sy die emosionele nood van die dorp se inwoners raakgesien het.

“Net soos wat jy na ‘n dokter toe gaan as jy fisies siek is, so gaan jy sosio-emosionele terapeut toe as jou siel siek is.” Sy moedig enige persoon aan wat emosionele probleme ervaar om ‘n sosio-emosionele terapeut te vra vir hulp.

Sy sê die geheim van emosionele bystand is om eers jou eie emosionele uitdagings aan te spreek.

“Iemand wat self deur ‘n stryd gaan, sal eerder empaties as simpaties wees teenoor ‘n ander wat emosioneel onstabiel is,” sê Annelize.

Sy vertel hoe sy as jong vrou ook emosionele trauma moes deurmaak en oorleef het. “Ek het al verskriklike goed gesien en beleef, maar ek kon nog nooit ophou om die werk te doen waarvoor ek lief is nie.”

Sy het lank in die Wes-Kaap gewoon, maar het teruggekeer na haar geboorte dorp, Randfontein, omdat sy tydens ‘n besoek die seer in die dorp raakgesien het.

Annelize het bygevoeg, “Ek het besef Randfonteiners dink hulle is nie geregtig op ‘n beter lewe nie, terwyl die teendeel waar is. Ek het altyd vir die kinders vertel solank as wat daar lewe is, is daar hoop en solank daar hoop is, sal daar lewe wees.”

Sy sê toe verder dat sy haar passie om mense sosiaal en emosioneel te genees ontdek het toe sy as pas gegradueerde student die kinderhulplyn in Potchefstroom help stig het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version