Jannas se Hang-toneelstuk gryp gehoor

Jannas se Hang-toneelstuk oor ernstige tienerkwessies aangrypend.

Met hul toneelstuk, Hang, het Hoërskool Jan Viljoen (Jannas) op kuns- en intellektuele vlak na hul leerlinge uitgereik.

Die toneel is op Vrydag, 12 Augustus in Jannas se skoolsaal opgevoer. Ouers en oudleerlinge het saam met huidige leerlinge daarna gaan kyk en is voor die vertoning met sjerrie en sop verwelkom.

Die Herald het die opvoering bygewoon met die verwagting dat dit ‘n gewone skooltoneelstuk met ‘n ligte trant en humoristies van aard sou wees. Toe die ligte gedoof is en die eerste toneel begin het met ‘n wit ligskerm wat wys hoe ‘n meisie aan haar nek hang, en ‘n tiener verby loop en gil toe sy die ‘lyk’ sien, is daar besef dat die stuk iets buitengewoon sou wees.

Dit was duidelik dat die toneel nie soos al die ander is nie. Dit het onmiddellik sin gemaak dat die skool nie leerlinge jonger as 16 sonder hul ouers na die toneel wou laat kyk nie.

Hang handel oor ‘n tiener wat op ‘n sosiale netwerk op haar foon deur haar medeleerlinge geteister en geboelie word. Die beledigings en gerugte op die groep ruk hand uit en later verkrag een van haar klasmaats haar. Daarna hang sy haarself op.

Die manier waarop dié neerdrukkende onderwerp oorgedra is, was beslis iets nuuts. Dit speel af in ‘n geselsgroep op ‘n sosiale netwerk. Elke reëltjie wat die toneelspelers gesê het is, veronderstel ‘n boodskap op dié groep. Dit het aan teater, wat sommige as ouderwets beskou, ‘n vars, nuwe voorkoms gegee wat pas by Hang se byderwetse en toepaslike boodskap.

Die gebruik van rekwisiete was ook iets besonder. Die tieners in die geselsgroep het almal op ‘n leer gesit wat op hul hoë dunk van hulself gesinspeel het.

Die toneel is beslis ‘n Jannas-meesterstuk waaraan Alta Steenkamp en Chanel van den Berg, die skool se drama-onderwysers, baie hard gewerk het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version