Koos Koei se dood laat ‘n groot leemte

'Hy het 18 jaar gelede ‘n hartaanval gehad en dokters het hom net drie jaar gegee om te leef, maar die Here het hom ten spyte daarvan tot vanoggend vir ons gespaar.'

Jacobus Marthinus van Zyl, 66, (beter bekend as Koos Koei) is vanoggend (12 Augustus) oorlede.

Die oorsaak van sy skielike dood is nog nie bekend nie. Volgens sy vrou Bonnie het hy haar om 4vm wakker gemaak en gesê hy het ‘n pyn op sy hart. Hy het inmekaargesak en gesterf. Koos sou vanoggend (12 Augustus) om 8vm ‘n operasie ondergaan om ‘n liesbreuk te laat herstel.

Bonnie het vertel hoe ‘n groot skok haar man se skielike dood is. “Hy het 18 jaar gelede ‘n hartaanval gehad en dokters het hom net drie jaar gegee om te leef, maar die Here het hom ten spyte daarvan tot vanoggend vir ons gespaar,” het Bonnie gesê.

Sy het gesê dit is ‘n groot verlies vir die familie om hom op so ‘n ‘jong’ ouderdom te verloor.

“Ek is geseënd dat ek so ‘n wonderlike man vir so lank in my lewe kon gehad het. Hy was betroubaar en ‘n absolute mentor vir almal in die familie.”

Bonnie het gesê haar man was altyd vol grappies en het tot die koeie op sy plaas na elkeen van sy kleinkinders vernoem. “Familie was vir hom die belangrikste. Hy wou altyd hê daar moes geluk in sy huis wees. Hy het die kleinkinders altyd inkopiesentrum toe gevat, grappies gemaak en dan hardop saam gelag.”

Sy het ook van haar man se ongelooflike lewenskennis vertel. “As jy ooit raad nodig het, weet jy hy is die man om mee te praat. Hy het altyd sy kleinkinders op sy skoot laat sit en ure lank na hul stories en kwale geluister,” het Bonnie hartseer gesê. Hy het ‘n spesiale verhouding met elke kind gehad en laat talle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders agter.

Die begrafnisdatum sal later bekend gemaak word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version