Local newsNews

Buikoperasie se nadraai word ‘n nagmerrie

Verloofde: “Ek het al in die nag wakker geword met ‘n leë plek langs my in die bed en as ek haar gaan soek, kry ek haar op die badkamervloer in ‘n bondeltjie opgekrul.”

‘n Vrou in haar vroeë 40’s het kroniese gesondheidsprobleme sedert sy in November 2014 ‘n klein operasie in ‘n hospitaal ondergaan het.

Ohna Hetzel, ‘n voormalige eiendomsagent by El Cupic-eiendomme het septisemie opgedoen nadat ‘n suster glo die steke van haar nuwe buikwond in die intensiewesorg-eenheid uitgehaal het.

Volgens Bennie Kock, haar verloofde het die suster nie ‘n gesigmasker opgehad toe sy die steke verwyder het nie. Hy het ‘n dag daarna ‘n rooi kol op die wond opgemerk en die suster gevra om daarna te kyk.

“Binne ‘n dag het Ohna kritiek siek geword,” het Bennie gesê.

“Haar organe het een vir een infeksie opgedoen. Dit het lank geduur voordat dokters van die septisemie kon ontslae raak.”

Volgens Ohna is haar pyn en lyding nog nie verby nie. Sy het vertel dat ten spyte daarvan dat sy na die prosedure net ‘n paar dae in die hospitaal was, moes sy talle kere teruggaan vir noodoperasies en behandeling.

“Ek het vyf operasies in 10 maande gehad. Ek herinner myself elke dag daaraan dat nie een van die dokters my behoorlik kon help nie,” het Ohna gesê. Volgens haar wil geen dokter haar opereer nie aangesien sy so ‘n hoë risiko in die teater is.

Sy ly nou aan kroniese pyn en spasmas. Sy het gesê haar siekte hou haar gyselaar.

“Ek was ‘n besige eiendomsagent. Ek’t altyd rondgegaan en met mense gesels. Daarom is dit vir my ‘n straf om heeldag tussen die vier mure by die huis te sit. Dis soos om ‘n wilde dier in ‘n klein hokkie aan te hou.” Sy voel dat haar emosionele stabiliteit ook onder haar siekte ly.

Bennie het vertel hoe bekommerd hy oor Ohna se gesondheid is. “Ek het al in die nag wakker geword met ‘n leë plek langs my in die bed en as ek haar gaan soek, kry ek haar op die badkamervloer in ‘n bondeltjie opgekrul”.

Bennie en Ohna het gevra dat enigiemand wat weet van ‘n dokter wat in septisemie en kolonprobleme spesialiseer hulle sal skakel by 084 993 0131.

WAARSKUWING: Foto’s nie vir sensitiewe lesers nie.

Related Articles

Back to top button