Jagter van formaat op 12

Die Herald gesels met 'n jong man oor sy liefde vir jag.

Jag is al waaraan die 12-jarige Andrew Monthé van Homelake kan dink.

Terwyl sy maats ‘n skaatsplank of motorfiets vir hul verjaarsdag wil hê, begeer hy sy eie jaggeweer sodat hy sy liefde vir jag kan uitleef.

Op negejarige ouderdom het Andrew reeds sy eerste wenskoot tydens ‘n jagtog geskiet.

“Ons het probeer ontslae raak van die bobbejaan wat aanmekaar die buffels se kos vreet. Ek het hom by ‘n waterkrip gewaar en saggies die geweer gelaai. Ek mik toe mooi sodat ek hom nie kwes nie.

“Ek het die skoot afgetrek en die koeël het hom tussen die blaaie op sy rugstring getref. Die oom op wie se plaas ons was het ons bedank omdat die probleem toe opgelos is,” het Andrew vertel. Hy het gesê hy het nog nooit so trots gevoel nie.

Volgens Andrew was sy laaste jaguitstappie net so ‘n groot sukses. Sy pa het hom middel-Julie na ‘n wildsplaas geneem om bokke te skiet. Hulle wou biltong maak en die res laat opstop as ‘n trofee om in hul huis te hang.

“My pa het al ‘n hele paar trofeë, maar dié sou my eerste wees.”

Tydens die jagtog het Andrew ‘n groot gemsbok gesien en gesê dat dit sy bok was. “Ek het gemik, asem gehaal, die skoot afgevuur en die gemsbok geskiet.” Andrew het trots vir ‘n foto voor die bok gaan staan voordat hy op die bakkie gelaai is.

Hy het vertel dat die slagter 110km vleis uit die bok geslag het. Sy horings was byna ‘n meter lank. “My ma wil net heeltyd biltong maak en my oupa straal elke dag van die trots,” het Andrew gesê.

“My raad aan enige jong jagter is om die geweerkolf so styf moontlik teen jou skouer te stut en jou tyd te vat as jy mik. Skiet die bok op die blad naby sy hart. Dit is ‘n groot spasie so jy is seker jy gaan hom raakskiet.”

Andrew het ook vertel dat hy vreeslik uitsien na hul volgende jagtog later vandeesmaand.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version