Rierand verwelkom nuwe kunsonderwyser

‘Ek het ‘n skoot in die donker gewaag en sover het dit nog heel goed uitgewerk.’

Hoërskool Riebeeckrand het onlangs ‘n nuwe kunsonderwyser aangestel.

Veruska Denysschen het haar beroep as juweelontwerper prysgegee om kunsgeskiedenis by die hoërskool aan te bied.

“Juffrou Desiree Robertson, een van Riebeeckrand se vorige kunsonderwysers het my jare gelede geïnspireer om ‘n juweelontwerper te word.

“Sy het gesê ek het die geduld en deernis daarvoor gehad. Maar my lewenspaadjie het my in ‘n ander rigting geneem omdat die beroep my begin verveel het,” het Veruska vertel.

Vir haar was onderwys nog nooit ‘n opsie nie, maar die idee het onlangs by haar begin posvat.

“Ek het ‘n skoot in die donker gewaag en sover het dit nog goed uitgewerk.”

Sy het gesê haar eerste week van skoolgee het heel vlot verloop, al het sy ‘n paar ‘blonde’ oomblikke in die klas ervaar.

“Ek’t die konsep van die linker- en die regterbrein vir die klas probeer verduidelik, toe ‘n leerling vir my uitwys dat ek heeltyd die konsepte omruil. Vir ‘n oomblik het ek gestry, maar toe besef ek dat dit waar was. Die kinders het onderlangs gegiggel terwyl ek bloedrooi voor in die klas gestaan het.”

Veruska het gesê sy het in hierdie kort week nuwe respek vir onderwysers gekry. Daar gebeur baie agter die skerms wat die werk heelwat moeiliker maak.

“’n Mens dink dat onderwysers van 8vm tot 2nm werk, maar daar is ‘n tydsgogga wat jou maklik elke dag tot 10nm kan laat werk.”

Sy het vertel dat hoewel alles vir haar baie nuut is, sien sy uit na nuwe ervarings en nuwe leerlinge elke jaar. Sy glo ook konsepontwikkeling was nog altyd een van haar groot liefdes en sterkpunte, en dat dit haar as kunsonderwyser sal help.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook: 

So lyk Rierand se nuwe onnies

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version