Local newsNews

Nasionale revuekompetisie: Kan jou skool die pyp rook?

'Ek het al baie van hierdie revues gesien wat baie na aan professionele produksies se standaard is.'

Is jou skool se revue uit die boonste rakke met die potensiaal om ‘n professionele produksie te word?

Nou is die kans om jou skool se revue na nuwe hoogtes te neem, danksy Frans Swart, hoof uitvoerende beampte van Lefra Produksies.

Die maatskappy het onlangs hul opwindende revuekompetisie, REVUE SA 2016, bekendgestel. Hierdie kompetisie is vir laer- en hoërskole en sal van 5 tot 21 September in Carnival City se Big Top Arena plaasvind. Frans, wat met die idee van ‘n nasionale revuekompetisie vorendag gekom het, is baie opgewonde oor die projek.

Hierdie kan jou skool wees wat aan REVUE SA 2016 deelneem. Foto ingestuur.
Hierdie kan jou skool wees wat aan REVUE SA 2016 deelneem. Foto ingestuur.

“Laerskole en hoërskole spandeer soveel tyd, geld en energie aan hul jaarlikse revue. Ek het al baie van hierdie revues gesien waarvan die standaard baie naby dié van professionele produksies is. Dit maak my hartseer dat daar nie ‘n verdere lewe vir hierdie wonderlike verhoogstukke is nie. Juis daarom het ons by Lefra besluit dit sal wonderlik wees om hierdie revues nog ‘n slag te kan opvoer.

“Dit gaan ook vir skole die geleentheid bied om te bepaal waar hulle eie standaard lê deur dit met ander produksies te vergelyk,” het Frans gesê.

Slegs 26 laerskole en 26 hoërskole sal gekeur word om aan die kompetisie deel te neem. Om vir keuring aansoek te doen word daar van skole verwag om ‘n 10-minute-video saam met die volledige inskrywingsvorm aan hulle te stuur. Volgens Frans hoef dit nie professionele video’s te wees nie omdat hy nie van skole verwag om ekstra geld te spandeer op videoproduksies nie. Video’s wat met ‘n goeie videokamera of selfs ‘n selfoonkamera geneem is, is voldoende.

Hierdie kan jou skool wees wat aan REVUE SA 2016 deelneem. Foto ingestuur
Hierdie kan jou skool wees wat aan REVUE SA 2016 deelneem. Foto ingestuur

“Ons wil ook graag ‘n realiteitshoek aan die hele kompetisie gee. Die belangrikste is egter dat elke aand van die kompetisie ‘n wonderlike vertoning van dans, sang, beweging en kleur moet wees. Ons besef maar te goed dat REVUE SA 2016 ‘n kompetisie is, maar ons glo ook dat skole, onderwysers, afrigters en leerlinge die geleentheid sal gebruik om nuwe vriende te maak en by mekaar te leer,” het Frans gesê.

Elke deelnemer gaan ‘n sertifikaat vir deelname ontvang, en daar is boonop groot pryse op die spel. Bekende beoordelaars en aanbieders gaan ingespan word. REVUE SA 2016 sal volledig verfilm word en moontlike later op kykNET NOU gebeeldsend word.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 12 Augustus 2016. Keuring sal teen 26 Augustus afgehandel wees waarna gekeurde skole in kennis gestel sal word.

• Navrae: Besoek die webwerf www.revues.co.za.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button