Local newsNews

Inwoner vertel van haar ewige gesukkel om haar huis terug te kry

‘Daar was weer nie deure aan my huis nie, die dakteëls was halfpad afgesteel, die badkamer was verwoes en al die meubels was weg.’

Patricia Mattheyse, ‘n inwoner van Westergloor sukkel al vir meer as 16 jaar om haar huis in Redwoodstraat terug te kry.

Volgens Mattheyse is haar tweeslaapkamerhuis menige kere deur dwelmverslaafdes en haweloses verniel.

Voor sy dood het Patricia se stiefpa die huis waarin hulle gewoon het aan haar toevertrou. Hy het in 2002 gesterf en Patricia se broer het daardie jaar by haar ingetrek. Volgens Mattheyse is haar broer reeds vier jaar lank gereeld in dwelmrehabilitasiesentrums.

In 2011 het sy besef haar kinders se veiligheid word bedreig deur die vreemde gaste wat haar broer daagliks ontvang het. Al het die huis aan haar behoort, kon Patricia nie meer die omstandighede verdra nie en het met haar kinders by haar tannie in Toekomsrus ingetrek.

Vroeër vanjaar het sy in haar ouma se agtererf in ‘n sinkhuisie ingetrek. “Ons is vier wat op een bed slaap,” het Mattheyse gesê.

Patricia Mattheyse sit op die bed wat sy en haar drie kinders deel nadat sy haar huis in Westergloor om veiligheidsredes moes verlaat.
Patricia Mattheyse sit op die bed wat sy en haar drie kinders deel nadat sy haar huis in Westergloor om veiligheidsredes moes verlaat.

Al het sy nie meer in haar huis in Redwoodstraat gewoon nie, het sy verskeie kere na die huis toe gegaan. Verlede jaar het sy met een van haar besoeke tot haar groot verbasing gesien dat die perseel verlate en in ‘n haglike toestand was.

“Daar was nie deure aan my huis nie, die helfte van die dakteëls is gesteel, die badkamer was verwoes en al die meubels was weg,” het Patricia hartseer gesê.

Aangesien niemand meer in dié huis gewoon het nie, het sy dit met die hulp van die munisipaliteit herstel sodat sy weer daar kon gaan woon. Die munisipaliteit het die vensters, deure en plafonne vervang. ‘n Week later, toe Patricia met die helfte van haar trek by die huis aankom, was dit weereens in ‘n vervalle toestand. Die deure se handvatsels was af, die badkamer se krane en toilet was weg en die plafon was weer stukkend. “Ek was so hartseer dat ek in die hospital vir stres opgeneem moes word,” het sy vertel.

“Ek voel nou te skuldig om weer die munisipaliteit te vra om my te help om die huis te herstel.” Patricia hoop sy kan dié keer hulp by die gemeenskap kry. “As daar net ‘n toilet, slotte en ‘n plafon in die huis was, sou ek teruggetrek het,” het sy gesê.

Enigeen wat vir Patricia wil help, kan haar by 074 304 6849 skakel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Lees ook:

Ward councillor attacked by angry residents

Mandela Day: Police do their bit for Madiba

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

 

Related Articles

Back to top button