NewsSchools

Riebeeck ontvang grootste groep proefstudente nog

Hoërskool Riebeeckrand akkommodeer tans 11 onderwysstudente wat hul proeftydperk by die skool deurbring.

Elke jaar akkommodeer Hoërskool Riebeeckrand ‘n groep onderwysstudente wat vir hul proeftydperk deur universiteite uitgeplaas word. Hierdie kwartaal spog die skool met die grootste groep aansoeke nog.

Al die aansoeke is aanvaar en volgens die skool is daar tans 11 onderwysstudente wat hul proeftydperk by die skool deurbring. Elzeri Wright, skoolwoordvoerder het gesê dit is altyd aangenaam vir die skool om onderwysstudente te ontvang.

“Dit is lekker om te weet dat die studente ons as ‘n goeie skool beskou om by te leer,” het sy gesê.

Sy voel ook die studente verdien ‘n regverdige leergeleentheid.

Dit is bitter moeilik vir studente om ‘n skool in hul area te kry waarby hulle kan proef. Daarom is ons bly ons kan so baie studente akkommodeer.”

Aangesien daar meer as een onderwyser vir elke vak in die skool is, kan die skool meer as een onderwysstudent per vakgebied aanvaar. Elzerie het gesê die studentonderwysers gee nie noodwendig alleen klas nie, maar is eerder waarnemers onder die toesig van ‘n aangestelde onderwyser. Riebeeckrand is ook die alma mater van ‘n handjievol van hierdie studentonderwysers.

Augusté Brits het in 2012 by hierdie skool gematrikuleer. Sy het gesê dit voel asof sy na ‘n lang vakansie weer tuis is. “Dis lekker om terug te wees. Daar is baie nuwe onderwysers, maar daar is ‘n paar wat nog vir my skoolgehou het en hulle onthou my ook, ”het sy vertel. Vir haar was skoolhou nog altyd ‘n passie. Sy is gek oor geografie en sy hoop sy kan haar liefde vir die vak aan haar leerlinge oordra.

Monique van Niekerk, wat in 2010 by dié skool gematrikuleer het en reeds haar BA-tale verwerf het, het gesê sy het besluit om ook ‘n onderwysgraad te voltooi sodat sy meer loopbaankeuses na haar studies kan hê. Sy is tans in haar finale jaar as ‘n onderwysstudent.

Alhoewel dit maar die studentonderwysers se derde dag by die skool was, het hulle gesê hulle voel reeds welkom. “Ek weet nie of die leerlinge geskok is deur ons teenwoordigheid nie, en of hulle nog nie weet hoe om ons te hanteer nie, maar sover was die eerste paar daggies bitter pret,” het Monique gesê.

Die groep studente is dit eens dat daar ‘n groot akademiese sprong tussen matriek en universiteit is. Hulle wens die matrikulante wat met voorbereiding vir die eindeksamen begin, sterkte toe. “Skool is net ‘n druppel aan die emmer, so leer hard en doen goed sodat jy meer opsies na skool kan hê,” het Monique gesê.

Shervan Marais het saamgestem en gesê, “Moenie net altyd jou vriende volg nie. Na skool gaan jy bitter min van hulle te siene kry en dan is jy vir die res van jou lewe daardeur benadeel.”

Dirk Coetzer, Shervan Marais, Augusté Brits en Monique van Niekerk is vier van die 11 onderwys-studente wat hul proeftydperk by Hoërskool Riebeeckrand deurbring. Hier maak hulle asof hulle weer by die skool gaan klas hê.
Dirk Coetzer, Shervan Marais, Augusté Brits en Monique van Niekerk is vier van die 11 onderwys-studente wat hul proeftydperk by Hoërskool Riebeeckrand deurbring. Hier maak hulle asof hulle weer by die skool gaan klas hê.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort RecordKrugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button