Tannie Lizzie is 1 200 maande jonk

Om 1 200 maande oud te wees is nie vir sissies nie.

Die Renaissance-ouetehuis het op Woensdag 29 Junie ‘n inwoner se 100ste verjaarsdag gevier.

Maria Elizabeth le Roux, of Tannie Lizzie soos haar vriende en familie haar ken, het op Sondag 3 Julie dié ongelooflike mylpaal bereik. Haar verjaarsdag is egter reeds op 29 Junie gevier nadat pastoor Tokkie Smit die funksie geopen het. Daarna was daar gelukwense van verskeie geliefdes terwyl heerlike koek geëet en lekker gesels is.

Dié besonderse viering is deur talle mense bygewoon, insluitend Brian en Veronica Norsworthy van die Helikonpark-tak van Pick n Pay wat koek geborg het, asook Alwyn van Tonder, DA-raadslid vir Wyk 3.

Tannie Lizzie en haar man Andries – wat op 83-jarige ouderdom op 16 Junie 1997 gesterf het – is op 7 Maart 1939 getroud en het vyf kinders, naamlik Annatjie, Chris (oorlede), Hannes, Isabel en Dries. Daar is altesaam 13 kleinkinders en 21 agterkleinkinders waarvan twee oorlede is. Die egpaar het op 1 Februarie 1991 hul intrek by Renaissance geneem.

Hul dogter Isabel Smal het met haar ma se verjaarsdagvieringe by die ouetehuis drie boeke op elke tafel geplaas en verduidelik dat dit ‘n versameling van al haar Moeder se kennis is, alhoewel haar Bybel haar eintlike handboek is.

“Moeder is die voorleier wat gebed aanbetref,” het sy vertel.

Isabel meen dis die eerste keer dat die oord ‘n 100-jarige inwoner het. Tannie Lizzie word onder andere beskryf as ‘n rolmodel, ma en beste vriendin. Verskeie geliefdes glo dat sy die beste kok is wat haar lewe voluit gelewe het.

“Sy is soos ‘n sonneblom wat altyd goudgeel na die son gedraai is.

“So ‘n besonderse bejaarde het ek nog nooit geken nie,” het haar vriendin Kotie de Beer gesê.

Lizzie het vertel hoe sy elke oggend en aand fisiese oefeninge doen en altyd na die nuus kyk omdat sy gretig is om ingelig te bly oor daaglikse gebeure. Al verouder haar liggaam, is haar humor nie tydgebonde nie.

“Die Bybel is my geheim,” het Lizzie gesê.

“Op seniors, op grys hare, op Ouma Lizzy,” het Pastoor Smit gesê.

Die hoë ouderdom wat tannie Lizzie bereik het is gelykstaande aan ongeveer 1 200 maande of 36 525 dae; 876 582 uur; 55560 000 minute en 3.155 693 sekondes.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version