Local newsNews

Biltong ‘n ‘egte Suid-Afrikaanse tradisie’

Al ooit gewonder hoe die biltongproses werk?

Die Britte geniet hul tee, die All Blacks eet en slaap rugby en Suid-Afrikaners is mal oor biltong.

Kyk maar elke naweek. Hier teen Vrydag is die slaghuise stampvol want vanaand gaan ons braai. Saterdag is pa al vroegoggend weer by die slaghuis om biltong en vleis te kry vir die rugby en sommer ook genoeg vir Sondag.

Het jy al ooit gewonder hoe die biltongproses werk en waar daardie lekker chilli bites vandaan kom? Dis nou as jy nie jou eie biltong maak nie. Anton Davel, eienaar van Bietjie Biltong in Helikon Park het dit stap vir stap verduidelik.

Stap een is om ‘n bestelling by die vleisverskaffer/ abattoir/ slagpale te plaas. Anton verkies C-graad boudvleis maar dit is nie altyd verkrygbaar nie.

Hy het ook meer oor die verskillende vleisgrade vertel, onder andere dat beesvleis in verskillende klasse gegradeer word. A-klas is supervleis, A0 is vleis met baie min vet en A6 is die vleis met die meeste vet. Van A2 tot en met A5 is die vetinhoud al hoe groter. Dan is daar C-graad vleis wat die geskikste vir biltong is want dit is die vleis van ‘n ou dier.

Sodra die vleis afgelewer is, word die verskillende snitte uit die boud gesny, naamlik silverside, binneboudstuk (topside) en diklies (thick flank). Volgens Anton gebruik mens silverside vir biltong, die binneboud (topside) vir biltong en chilli bites, en die diklies (thick flank) net vir chilli bites.

“Van al die afvalstukke plus die ontbeende skenkelvleis shin word droëwors gemaak.”

Tydens stap drie word speserye oor die vleissnitte gestrooi en dan vir 24 uur laat lê sodat die geure kan intrek. Hierna word die vleis vir minstens drie dae opgehang om droog te word. Dan eers word dit verkoop. Anton het gesê die hele proses neem so drie dae.

Gevra hoekom hy dink Suid-Afrikaners so dol is op biltong het Anton gesê, “Dit is ‘n egte Suid-Afrikaanse tradisie.” Wat die hoë vleispryse betref, het hy gesê, “Vleis is die duurste wat dit nog ooit was maar dit sal nie mense weghou nie, hul sal net minder koop.”

Besoek ons webwerf vir inligting oor hoe ‘n vleisbees in vier kwarte verdeel word.

Enigiemand lus vir ‘n stukkie biltong?

Anton het gesê die bees het twee voorkwarte en twee agterkwarte.

Hulle gebruik net die agterkwarte vir biltong.

• Snitte uit die voorkwarte:

Borsstuk (brisket), dikrib (chuck), kortrib (short rib), skenkelvleis (shin) vir sop, en die bladstuk (bolo) is geskik vir kook

• Snitte uit die gterkwarte:

Silverside vir biltong; binneboud (topside) vir biltong, roerbraai, blokkiesvleis en saggemaakte (tenderised) steak; diklies (thick flank); rump steak; sirloin; T-been; fillet; kortrib (short rib) en skenkelvleis (shin).

Die afvalstukke van die voor- en agterkwarte word gebruik om boerewors, droëwors en maalvleis te maak.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button