Band tussen man en hond wat lewens red

Tyson is wel 'n polisiehond, maar vir my is hy soos familie.

Hulle sê ‘n hond is ‘n man se beste vriend en in Reinier Henning se geval is sy hond, Tyson, soos ‘n familie-lid.

Die 43-jarige Henning, huidiglik verbonde aan die polisie se Wesrand Honde-eenheid (die K9s) se opsporing en reddings-span is al vir 16 jaar ‘n hondegeleider. Sy huidige spanmaat is Tyson, ‘n vyf-jarige kruising tussen ‘n Herdershond en ‘n Labrador.

Henning het in die jaar 2000 begin om patrolliehonde op te lei. Daarna, in 2002, het hy opleiding ontvang as springstofhond-geleider, en in 2012 is hy opgelei as ‘n dwelmhond-geleider.

Henning se grootste droom is bewaarheid toe hy in 2014 as ‘n honde-eenheid (K9) opsporing en reddings-span hondegeleider opgelei is.

Henning se reddingshond, Tyson, is aan hom geskenk deur ‘n voormalige polisiekaptein, toe hy verneem dat Henning op die K9-kursus sou gaan. Henning en Tyson is saam opgelei by die Roodeplaat-hondeskool naby Pretoria.

Daar moes Henning eerstens twee verskillende reddingswerktegnieke leer voordat hy en Tyson se opleiding saam vir die volgende vyf maande kon begin.

Hulle werk behels onder andere die opsporing van vermiste persone, verdrinkingsdood, ramptonele, vlak grafte, groot ongelukstonele, hulp met die ondersoek van misdaad tonele en waterreddingswerk.

Henning verduidelik dat Tyson saam met hom woon, ook omdat die band tussen geleider en sy hond ‘n groot rol speel.

Tyson se werk op tonele is om aanwysings te maak waar ‘n sekere toneel dalk plaasgevind het, byvoorbeeld ‘n vlak graf waar iemand begrawe is, of dalk ‘n verdrinking in ‘n dam, of bewysstukke op ‘n misdaadtoneel.

“Die span het al verskeie groot tonele bygewoon en een wat beslis uitstaan is dié van Palesa Madiba, die student wat in 2013 by die Universiteit van Johannesburg (UJ) ontvoer is. Ons het haar lyk opgespoor in Phiri, Soweto op 16 Desember 2015, waar sy in ‘n vlak graf agter in ‘n erf begrawe was.”

Wanneer Tyson nie op diens is nie speel hy graag met Henning se ander herdershond by die huis. Andersins hou hy hom besig met ‘n baksteen wat hy òf rond dra, òf met sy neus al om die erf stoot.

Tyson is ook baie lief vir swem en gaan gereeld saam met Henning dam toe vir ontspanning. Henning se liefde vir Tyson is baie duidelik toe hy sê, “Tyson is wel ‘n polisiehond, maar vir my is hy soos familie. Hy word ook soos ‘n familie-lid behandel.”

Reinier Henning en Tyson, sy polisiehond.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version