Melkprodusente in ernstige prys/ koste knyptang

'Indien melkverwerkers nie spoedig reageer nie sal die aanbod van roumelk vanaf Junie onder druk kom.'

Melkprodusente ondervind hulself in ‘n ernstige prys/ koste knyptang het die Melkprodusent Organisasie (MPO) gesê.

Volgens Dr. Chris van Dijk, hoof-uitvoerende beampte van die MPO sal melkverwerkers dringend aandag aan die vlak van produsentepryse moet gee ten einde produsente in staat te stel om produksie te handhaaf.

“Indien melkverwerkers nie spoedig reageer nie sal die aanbod van roumelk vanaf Junie onder druk kom,” meen van Dijk.

Indien produksiekapasiteit op ‘n groot skaal verloor word, is die herstel van die kapasiteit moeilik en duur. Tydige optrede kan produksie stabiliseer. Van Dijk sê verder dat produsentepryse tans bykans op dieselfde vlak as bykans twee jaar gelede terwyl insetpryse dramaties hoër is.

Die ernstige droogte het veroorsaak dat graanpryse skerp gestyg het.

“Geelmielies en sojabone is tans onderskeidelik 30 persent en 25 persent duurder as ‘n jaar gelede terwyl die prys van alle ander voerkomponenteook skerp gestyg het.”

Daar is gesê melkverwerkers word daarop gewys dat daar nie ‘n verlaging in die koste van ruvoer of konsentrate in die vooruitsig gestel word nie en dat die hoë koste van voer tot ten minste 2017 sal voortduur.

Van Dijk sê, “Die MPO is van mening dat dit onregverdig is dat die kostedruk deur die melkboer geabsorbeer moet word.

Styging veral in eletrisiteitstariewe (+15 persent) het verder druk op produsente se winsgewendheid geplaas.”

Aan die anderkant van die waardeketting toon steekproef opnames dat die kleinhandelspryse van suiwelprodukte op winkelrakke reeds in maart begin styg het.

Die MPO doen ‘n beroep op melkverwerkers om dringend aandag aan die negatiewe pryssituasie te gee ten einde die produksievermoë van die boere te beskerm.

Die MPO is van opinie dat in gevalle waar verwerkers reeds daarin geslaag het om hoër pryse by kleinhandelaars te beding ‘n deel daarvan aangewend behoort te word om produsente se produksievermoë in stand te hou.

• Navrae: Dr. Chris van Dijk by 082 789 4499 of e-pos na chris.vandijk@mpo.co.za

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version