Uit goeie hout gesny

Ma: Van kleins af het hy saam met my werk toe gegaan en saam met ons afgebreek en opgebou.

‘n Mens verwag dat ‘n 14-jarige seun speletjies sal speel en saam met sy vriende in winkelsentrums rondhang; maar nie Juandré Tosen nie. Hy is ‘n skrynwerker.Dit is ‘n belewenis om hom dop te hou wanneer hy meesterstukke –skynbaar moeiteloos – uit hout skep.

Sover bekend is Juandré die jongste skrynwerker in Randfontein. Hy was 11 toe hy met houtwerk begin het.

Die Herald het by ‘n Moedersdag-funksie by Cottage style op Juandré afgekom waar hy mense gewys het wat hy kan maak.

Sy ma, Amanda, is ‘n projek- en boubestuurder. Sy het vertel hoe houtwerk en bouwerk van kleins af vir Juandré gefassineer het. Sy het hom dikwels saamgeneem werk toe waar hy “… saam met ons afgebreek en opgebou” het.

Juandré se talent blyk ‘n Tosen-eienskap te wees. Sy ouer broer, wat self ‘n skrynwerker is, gee ook vir Juandré oorskiethout van sy projekte om sy kleinboet se talent te help ontwikkel. Dié jong skrynwerker ontwerp sy eie stukke en saag self die hout. Hy het ook al vir sy ouma meubels herstel en van sy houtwerk word in sy ma se huis gebruik. Hy maak ook kassies vir familielede.

Hy beplan om eendag óf ‘n argitek óf ‘n skrynwerker te word, want al hou hy baie van houtwerk wil hy ook van groter voorwerpe soos huise ontwerp.

Juandré is in Roodepark Skool in Roodepoort waar hy verlede jaar ‘n merieteprys vir sy tweede plek in die klas ontvang het. Verlede kwartaal het hy 83 persent vir houtwerk gekry.

Juandré se vaardighede is al so gevorder dat hy spesialismasjinerie gebruik om houtwerk te doen. Hy weet selfs hoe om dit te herstel.

Die jong skrynwerker beplan om ‘n stalletjie by die Tuinhekkie Boeremark te kry sodat meer mense sy werk kan sien – en koop.

Juandré Tosen, 14, is Randfontein se jongste skrynwerker.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version