NewsSchools

Rappies vier 100 goue jare

Rian van Heerden: Rappies kweek wenners vir môre.

Laerskool Rapportryer (Rappies) het die afgelope Saterdag hul 100ste verjaarsdag gevier.

Tydens die glansgeleentheid het voormalige hoofde, personeel en leerlinge van voor 1980 asook gaste die dag kom geniet terwyl Rappies-leerlinge met allerhande aktiwiteite op die veld besig was.

Met die Herald se aankoms het gaste lekker saamgekuier en oor die ‘lekker ou dae’ geklits voordat die amptelike program in die saal begin het.

Net voor die verrigtinge het Carel Stoop, huidige skoolhoof en wie al 19 jaar lank hierdie pos bekleë gesê, “Dit is ‘n groot voorreg om deel te wees van ‘n skool wat al ‘n eeu oud is. In vandag se dae is dit skaars en ek is baie bevoorreg.”

In ‘n pragtige versierde saal is Chrisjan Fourie en Mari de Beer (Rappies se hoofseun en onderhoofdogter) toe aan die woord gestel.

Rian van Heerden (radio-omroeper by Jacaranda 94.2) was een van die spesiale gaste. Hy is ‘n voormalige Rappie-leerling. Daar was ook ‘n spesiale verwelkoming aan Sarie Steyn, wat al 40 jaar lank by Rappies is.

Rappies se juniorkoor het hierna opgetree en hul harte uit gesing. Ds. Nico van Rensburg, wat al 25 jaar deel is van Laerskool Rapportryer het die opening behartig met ‘n deel uit Psalm 90.

Carel het ook vertel van al die aanpassings en verbeterings wat by Rappies oor die jare plaasgevind het. Hy het genoem dat die skool al 76 doelwitte bereik het.

Hierna het Eloise Siebert en Chris Holmes van die Rhythm in Us-dansskool in Krugersdorp die gaste se asems weggeslaan met hulle Latyns Amerikaanse-danse. Dirk Odendaal het ook ‘n boodskap van die beheerliggaam oorgedra en daarna het die seniorkoor die gaste vermaak met hulle sang.

Rian het in sy beurt die skool net alles van die beste toegewens en natuurlik ook sy herinneringe by Rappies met almal gedeel.

Almal is gebore met ‘n spesiale talent, jy moet jou talent net vind en hard daaraan werk,” het Riaan gesê.

Rian het ook genoem dat Rappies wenners vir môre kweek. Verder het Jopie Fourie en Frik Badenhorst, albei voormalige skoolhoofde van Rappies die skool gelukgewens.

“Rappies het diep spore orals gelaat. My hoogtepunt was die kontak wat ek in my jare met die kinders en personeel gehad het,” sê Frik.

Jan de Beer, nog ‘n gas en voormalige leerling het al die pad van Kanada afgekom om die spesiale dag by te woon.

Daar was ook ‘n solosang deur Michelle Kruger en Chené Münz asook ‘n dansitem deur Adeline en Bianca.

Rick van den Berg het ook ‘n praatjie gelewer wat die gaste laat skaterlag het gevolg deur ‘n skittervertoning van Rappies se pom-poms wat die gaste behoorlik laat regop sit het.

Na die bedankings het die gaste ‘n toer deur die skool geneem en heerlike potjiekos geniet. Die dag was ‘n reuse sukses waar al die gaste hulle dae by Laerskool Rapportryer onthou het.

Besoek die gallery vir nog foto’s.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button