Man, 80, se lewe in ‘n museumhuis uitgebeeld

Pat Markotter praat met die Herald oor die museum in sy huis waar sy hele lewe uitgebeeld word.

Een van die dorp se oudste inwoners, Pat Markotter, 80, is ‘n man met ‘n interessante geskiedenis.

Pat is nie net ‘n voormalig professionele bokser nie. Hy het nege goewermentsertifikate van die Spoorweë agter sy naam, was ‘n stoomlokomotiefdrywer en het ‘n musiekmuseum in sy huis.

Pat het ook bekend geword deur sy optrede op RSG se programme Vat vyf en Stoomtreinpraatjies in die 1980’s en 1990’s en het op die TV-program Kwêla verskyn. Die legendariese rugbyman, Oubaas Markotter, is sy oupa se jonger broer.

Pat se museumhuis, wat hy The Opera House noem, bevat ‘n baie groot versameling langspeelplate, ses grammofone, borsbeelde van bekende klassieke komponiste en selfs onderdele van ou stoomtreine. Hy het selfs die embleem van die stoomtrein wat hy gedryf het.

Pat se groot trots is sy versameling operamusiek wat hy oor al die jare bymekaar gemaak het. Hy het selfs een van die eerste langspeelplate in rolvorm. Van sy grammofone dateer uit 1906 en 1917 en hy besit ook ‘n kameragrammofoon. Almal werk nog verbasend goed.

Pat hou ‘n boek vol koerantuitknipsels oor sy jare as amateur- en beroepsbokser op sy koffietafel. Hy het al in die African Ring-bokstydskrif verskyn as ‘n goue oue (Golden Oldie) en sy vriendekring bestaan uit welbekende boksers.

My grootste liefdes is stoomtreine, boks en klassieke musiek,” het Pat aan die Herald gesê.

Volgens Pat is hy vol lewe, gelukkig en baie gesond.

“Ek loop Westonaria plat,” het hy vertel.

Nog ‘n hoogtepunt in sy lewe is toe ‘n boek, The Classic Collection – A beautiful noise oor sy lewe geskryf is.

Hy skryf self gedigte wat hy by verskeie skole en hospitale voorlees.

Pat het ook ‘n versameling teelepels, elkeen met sy eie storie en herinnering.

Talle nuuskieriges het reeds Pat se museum besoek en hy vra geen toegangsgeld vir ‘n toer deur sy museum nie.

Die twee uur wat die Herald by Pat deurgebring het, was nie naastenby genoeg om al die skatte uit sy verlede te ontdek nie. Pat se geloof is ook vir hom goud werd, soos hy beskryf in ‘n gedig: I am just a nobody, trying to convince everybody, that there is somebody, who can save anybody.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version