Local newsNews

Veldbrande – voorkom dit nou

Ryp is op pad, en dan is veldbrande weer volop.

Willie Steyn van Steyns Boerebenodighede waarsku boere oor die belangrikheid van voorsorgmaatreëls teen veldbrande in die wintermaande.

Volgens hom gaan boere oor minder as drie weke ryp kry en dan is veldbrande weer volop.

Hier is ‘n lys van riglyne en reëls wat ingevolge die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande 101 van 1998 geld wanneer brandbane gemaak word.

Brandbane moet langs die buitegrens op die eiendom gemaak word, en dit moet deurlopend in stand gehou word. Die baan moet ongeveer drie meter weg wees van enige brandbare materiaal.

Waar kroonbrande ‘n moontlikheid is, moet gras en struike vir ’n verdere vier meter tot die hoogte van nie meer as 10 sentimeter nie, gesny word.

Die gesnyde gedeelte moet tot teen die stamme van bome strek sodat die bome nie aan die brand kan slaan nie. Buitengewone, beskermde en skaars bome moenie verwyder word nie, maar brandbane moet rondom gemaak word.

Brandbane moet só gemaak word dat dit nie gronderosie veroorsaak nie.

Geen voorbrande mag gedurende ’n naweek of op ‘n openbare vakansiedag, of op die dag net voor ’n vakansiedag of naweek gemaak word nie.

Geen voorbrande mag gemaak word indien die brandgevaarindeks (BGI) 55 geel of hoër is nie, ook nie indien die voorspelling vir die dag ná die voorbrand 55 geel of hoër is nie.

Dit mag ook net gemaak word indien daar reeds 70mm reën binne die voorafgaande sewe dae geval het. Toestemming om ’n voorbrand te maak moet minstens 14 dae voor die tyd by die streeksvoorsitter verkry word.

Daarna moet die boer ook nog minstens 14 dae voor die dag en tyd van die beoogde voorbrand aan al sy bure skriftelik kennis gee van sy voorneme om ’n voorbrand te maak en hulle samewerking verkry.

Geen voorbrand mag op die bepaalde dag begin word voordat dit nie met die streeksvoorsitter bevestig is nie.

Die bure moet van die begintyd en die eindtyd van die voorbrand ingelig word. Ná ’n brand moet die hele vuurlyn geblus wees.

Spesiale voorsorg moet getref word om smeulende materiaal vir minstens een meter van die vuurlyn af met water te blus. Boere moet vir ongeveer 48 uur nadat ’n brand van enige aard beëindiging is, wagte ontplooi wat enige spontane ontbranding dadelik sal kan raaksien en blus. Slegs omgewingsvriendelike onkruiddoders mag gebruik word om brandbane te maak – geen grondsterilisasie nie.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Related Articles

Back to top button