2015: Meeste plaasaanvalle in 15 jaar

AfriForum en TLU SA: Totaal van 318 plaasaanvalle het plaasgevind.

Suid-Afrikaanse boere en plaaswerkers het in 2015 die wreedste jaar nóg beleef.

So het die burgerregte-organisasie, AfriForum en TLU SA Woensdag in ‘n verklaring gesê. Dit is ook die meeste aangetekende plaasaanvalle sedert daar in 1990 begin is om aanvalle aan te teken.

Volgens die AfriForum Navorsingsinstituut onder leiding van Lorraine Claasen, ‘n navorser by AfriForum, is die afgelope jaar se syfers verwerk en geverifieer om die mees akkurate weerspieëling te bied van die aard en omvang van plaasaanvalle in Suid-Afrika.

’n Totaal van 318 plaasaanvalle het in 2015 plaasgevind, waartydens 64 boere en werkers hul lewens verloor het. Hoewel daar in 2010 ook 64 moorde gepleeg is, is daar sedert 2011 (waarin 48 moorde gepleeg is) weer ’n geleidelike toename in plaasmoorde.

In die 318 plaasaanvalle in 2015 was ’n totaal van 570 boere, hul gesinne, werkers en kuiergaste slagoffers. In 40 gevalle was 65 plaaswerkers direkte slagoffers. Hoewel verskeie gesinne met klein kinders en babas ook aangeval is, blyk dit dat ouer persone makliker geteiken word.

Statistiek is gedurende 2015 deur sowel AfriForum as TLU SA ingesamel en deurlopend met mekaar geverifieer.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat die stelling van die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. Khomotso Phahlane, naamlik dat plaasmoorde groter prioriteit geniet, verwelkom word en dat die organisasie graag met die polisie sal saamwerk.

Die erkenning dat iets aan die krisis gedoen moet word, beteken nog nie dat die krisis opgelos is nie. Uiteindelik hang dit van die syfers op grondvlak af – of daar gedurende 2016 ’n afname in plaasaanvalle gaan wees.

“In hierdie verband kan ons ’n konstruktiewe rol speel. Intussen sal ons volstoom met ons veldtog voortgaan om plaasmoorde te prioritiseer.”

Henk van de Graaf, assistent-hoofbestuurder by TLU SA, het gesê dat plaasmoorde een van die probleme saam met die droogte is en dat daar ook ter wille van voedselsekerheid holisties na boere se veiligheid gekyk moet word.

Claasen het die publiek aangemoedig om enige inligting oor plaasaanvalle onder AfriForum se aandag te bring deur ’n e-pos nastopdiemoorde@afriforum.co.za te stuur.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version