Donker pad vir gesin van sewe

Twee dae nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy verneem dat sy gesin gevra is om uit hulle vyfslaapkamerhuis moes trek.

Op 2 Junie 2014 het ‘n gesin van Westonaria se lewens ingrypend verander toe die pa verneem het dat sy longe skade opgedoen het in die 11 jaar wat hy by ‘n myn gewerk het.

In die maand daarna waarin hy afgeboek is, het hy nie sy volle salaris ontvang nie, en moes selfs ‘n lening met rente by die subkontrakteurs aangaan. Dit was die begin van donker dae. Die betrokke myn vir wie hy gewerk het, het wel sy mediese kostes gedra. ‘n Jaar later is hy in Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal geopereer, nadat hy vermoedelik inwendig begin bloei het.

Met die operasie is daar bevind dat die skade aan sy longe groter is as wat aanvanklik gemeen is. Hy was daarna in die intensiewe sorgeenheid vir amper 21 dae. Twee dae nadat hy uit die hospitaal ontslaan is, het hy verneem dat sy gesin gevra is om uit die vyfslaapkamerhuis te trek waarin hulle ‘n jaar lank gewoon het. Dit was ontstellende nuus aangesien die man, sy vrou, vier kinders en een kleinkind in die huis gewoon het.

In Julie het hulle in ‘n eenslaapkamerwoonstel ingetrek, wat hulle in die vierde maand moes ontruim aangesien die man glad nie meer ‘n salaris ontvang het nie.

Twee van hul kinders het enige moontlike tipe werk probeer doen om kos op die tafel te kry, terwyl die ander kind tydelik by mense gaan bly het omdat sy nog op skool is, en hulle dit ten minste vir haar meer gerieflik wou maak.

In November het hulle op familie se eiendom in ‘n stoor gaan woon wat nie ‘n badkamer of vensters het nie. Die reën is met stukke karton uitgehou en die stof was veral vir die man baie nadelig.

Die gesin woon tans in ‘n woonwa in Lichtenburg. Hulle dogter is nou swanger, en sy slaap darem snags by familie. Hulle skoolgaande dogter bly steeds by mense in Westonaria.

Vir die paartjie is dit hul donkerste dae. Met ses persone snags in ‘n woonwa het die lewe ondraaglik geword. Terwyl hulle hul probleme met die Heraldbespreek het, het albei in trane uitgebars. Hulle benodig net genoeg geld vir hulle dogter se boeke, en werk vir die res van die gesin. Terwyl hulle by die Herald se kantoor uitgestap het, het die ma vertel hoe pynlik dit is om in ander mense se oë te kyk vir kos.

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version