Local newsNewsBreaking News

Rassisme-bom bars in R’fontein

Water vir vee ja, maar vir swart woongebied nee!

‘n Waterinsamelingsprojek het onlangs amper op die rotse beland.

Op Maandag 4 Januarie is Nattilly van der Westhuizen, voorsitter van die Sektor 4 Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en haar span deur ‘n inwoner genader om ‘n projek te ondersteun waardeur water vir die boere en hul vee in die Vrystaat asook Noordwes ingesamel sou word.

Hulle het dadelik ingestem en sosiale media as ‘n platform gebruik om mense oor die projek in te lig. Kort voor lank het waterskenkings van orals in Randfontein af begin instroom.

Die GPF van omliggende gebiede het ook groot hoeveelhede water vir die boere en hulle vee ingesamel. Talle was verbaas om te sien hoe die hele gemeenskap saam aan die projek gewerk het.

Saterdag 9 Januarie was die groot dag waarop 80 000 liter water met behulp van twee vervoermaatskappye en 11 bakkies van lede van die publiek en die GPF na Viljoenskroon vervoer is.

Met hul aankoms het Bertus van Biljon, ‘n lid van die boerevereniging, vir hulle gesê die boere in die gebied en hul vee het voldoende water.

Hy het verduidelik dat daar ander plekke was waar die nood groter is, naamlik die ouetehuis en die nabygeleë swart woongebied Puneng.

Dié nuus is nie goed ontvang deur sommige persone wat hul voertuie en hulp aangebied het nie. Daar was ongelukkigheid oor die idee dat water wat vir die boere ingesamel is, aan die Puneng-inwoners uitgedeel sou word. Daar is onder andere verskeie verwysings na ras en kru taal rondgeslinger.

Die bestuurders van vyf bakkies het toe glo net daar omgedraai en die water teruggeneem Randfontein toe. Die GPF-lede wat wel gebly het, het gehelp om die water tussen die ouetehuis, sommige dorpenaars en Puneng-inwoners te verdeel.

Van Biljon het aan die Herald verduidelik, “Daar was ongelukkigheid onder sommige van die mense. Ek het selfs Sondagoggend ‘n negatiewe boodskap van ‘n dame gekry.

“Ons ouetehuis is verskriklik dankbaar en die mense in die swart woongebied was so bly oor die water. ‘n Inwoner van Puneng het Maandag selfs ‘n boodskap van dank aan my gestuur waar hy sê: ‘Dit is wonderlik om weer soos normaal water te kan drink.”

Van Biljon het verder verduidelik dat die boere in die gebied grootliks water aan die swart woongebiede verskaf en dat baie van hul plaaswerkers daar woon. Volgens hom is daar onder die boere op die oomblik ‘n groot behoefte aan voer.

“Die inwoners van Puneng was in groter nood as ons boere, dit is waarom ons besluit het dat die water eerder vir hulle en die ouetehuis gegee moes word,” het Van Biljon gesê.

Van der Westhuizen van die GPF het gesê, “Die ouetehuis se tenks is gevul, van die dorpenaars het water gekry en die res het ons in Puneng afgelaai. Hospitale is ook in kennis gestel om water by die ouetehuis af te haal.

Dit was baie emosioneel om die inwoners van Puneng te sien hardloop vir water. Oud en jonk se gesigte was met dankbaarheid gevul. Drie dae sonder water kan nie maklik wees nie. Dit het my laat besef dat ons meer as net water bring, ons bring hoop.”

Een gedagte wat in Van der Westhuizen se kop vasgesteek het is, “Not our water, it’s God’s water to be given.”

Van der Westhuizen beklemtoon dit dat die projek begin is met die doel om water te verskaf aan enige persone wat dit nodig het.

“Die GPF is totaal en al nie-rassisties, nie-polities en nie-geloofsgebonde. Ons is daar om alle lede van die gemeenskap te help.

Want to receive news alerts via WhatsApp? Send us an SMS/ WhatsApp message with your name and cellphone number to 079 413 8726.

Familiarise yourself with our WhatsApp service disclaimer.

Do you perhaps have more information pertaining to this story? Email us at randfonteinherald@caxton.co.za (remember to include your contact details) or phone us on 011 693 3671.

For free daily local news on the West Rand, also visit our sister newspaper websites Roodepoort Record, Krugersdorp News and Get It Joburg West Magazine

Remember to visit our Facebook, Twitter and Instagram pages to let your voice be heard!

 

Related Articles

Back to top button