Gerugte oor ouetehuis is snert

'Vriendskapstuiste word streng beheer en ek doen dit met die beginsels wat my oom my geleer het, en dit is 'n wenresep'

Die Vriendskaptuiste Ouetehuis is nie te koop nie en daar is geen finansiële krisis is nie.

So sê Elbie Botha, voorsitter van die Ouetehuis nadat ‘n klompie aaklige gerugte onlangs kop uitgesteek het.

Gerugte lui dat Vriendskapstuiste in die mark is en dat dit omskep gaan word in ‘n rykmansoord.

Botha wil graag die gemeenskap gerusstel.

“Vriendskapstuiste is ‘n welsynsorganisasie wat nie aan iemand van buite behoort nie. Dit word deur ‘n komitee bestuur volgens die bepalings van sy grondwet.

“Vriendskapstuiste bestaan al vir ongeveer 51 jaar en dit sal nog vir baie jare bestaan. Die tuiste word ook volgens gesonde besigheidsbeginsels bestuur.”

Botha, ook ‘n landdros by die Randfontein Landdroshof is nou al vir sewe jaar die voorsitter van die Ouetehuis.

Volgens Botha het sy met haar aankoms talle projekte begin om die toestand van die huisies en die saal te verbeter en dit ook aan te hou onderhou.

Vriendskapstuiste het veral weens die groot haelstorm in November 2013 groot skade gely.

Sy het verduidelik dat sy bewus geword het van die gerugte toe ‘n vrou haar geskakel en gevra het hoekom Vriendskapstuiste in die mark is en hoekom dit omskep gaan word in ‘n rykmansoord.

Ek het in ‘n stadium ‘n belangrike vergadering belê oor die wanbalans wat ontstaan het omdat die meeste van die inwoners in die binnegebou en sale nie die korrekte huur betaal het nie.

“Vriendskapstuiste is ‘n welsynsorganisasie maar die staat subsidieer ‘n bedrag wat nie naastenby die koste om die ouetehuis aan die gang te hou, dek nie.

“Daar moes meer beheer uitgeoefen word om die balans te herstel en so ook die top kwaliteit van die voedsel en diens te kon behou,” het Botha verduidelik.

“My oom, Jimmy Kitching, het die ongelooflike visie gehad om die huisies te bou en te verhuur, en sodoende die koste van die binnegebou en sale te dra. Hy het my van kleins af touwys gemaak in die bestuur en geskiedenis van Vriendskapstuiste.”

Volgens Botha het sy ook aan voornemende huurders van die huisies die opsie gegee om die huis na hul smaak te verander, maar dat hulle self die koste daarvan moes dra.

Die komitee sou natuurlik nog die vloere teël en die mure verf. Die nuwe huurders was glo baie ingenome met die idee.

Iewers tussen die vergadering, die veranderinge wat die nuwe huurders kon aanbring en die projekte wat Botha aangepak het, het die gerugte glo ontstaan.

Ons bly ‘n welsynsorganisasie, maar as dit nie soos ‘n besigheid bestuur word nie, sal dit nie ‘n sukses wees nie. Ons verwelkom alle rasse en duld nie politieke invloede nie.

“Vriendskapstuiste word streng beheer en ek doen dit met die beginsels wat my oom my geleer het; dit is ‘n wenresep.

“Ek sê hiermee ook baie dankie aan die inwoners van Randfontein wat ons al die jare so mooi ondersteun met tyd, aandag, liefde en donasies. Sonder hul ondersteuning sal Vriendskapstuiste nie wees waar hy vandag is nie.

“Ek bedank ook my kantoorhoof, Colin Mqalo, dat hy my betrokkenheid by Vriendskapstuiste deurlopend steun.”

Sou jy graag nuusflitse via WhatsApp wil ontvang? Stuur ‘n SMS/ WhatsApp boodskap met jou naam en selfoonnommer na 079 413 8726.

Maak seker dat u kennis neem van ons WhatsApp-vrywaring

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n e-pos na randfonteinherald@caxton.co.za (sluit asseblief kontakbesonderhede in) of skakel ons by 011 693 3671.

Vir daaglikse gratis gemeenskapsnuus aan die Wes-Rand, besoek ook ons susterkoerante se webtuistes Roodepoort Record, Krugersdorp News en Get It Joburg West Magazine

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie om jou stem te laat tel!

Exit mobile version