30 Kerswense oor 30 dae!

Jy kan iemand se Kerswense bewaarheid.

Dit is amper Kersfees en Solidariteit Helpende Hand wil mense se Kerswense bewaarheid. Die publiek kan nou mense nomineer om hul wense waar te maak.

Oor die volgende 30 dae sal 30 wense ter waarde van R1 000 elk gekies word.

Vanaf Vrydag, 13 November tot 15 Desember 2015 kan Kerswense op Helpende Hand se Facebook-blad geplaas word vir oorweging. ʼn Ekstra bonus is dat Helpende Hand se agt streke elk ook die geleentheid het om elke week ʼn wens van R1 000 uit hul streek te bewaarheid.

“Dit is Helpende Hand se kans om terug te gee,” sê Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

Ons het heel jaar mense gehelp wat in nood verkeer. Nou kry ons egter die geleentheid om mense se drome waar te maak. Dit is ʼn baie spesiale geleentheid.”

Dalk ken jy ʼn bejaarde wat baie graag vir sy of haar familie wil gaan kuier, maar nie ʼn vliegkaartjie kan bekostig nie.

Dalk weet jy van ʼn kind wat ʼn fiets benodig, maar die familie kan dit nie bybring nie, of ʼn sopkombuis wat dringend niebederfbare voedselprodukte benodig, of ʼn ouetehuis wat komberse vir hul inwoners wil gee.

Wat ook al die behoefte, jy kan daardie persoon of instansie nomineer om hul Kerswens tot en met die waarde van R1 000 te bewaarheid.

Besoek vandag nog hul Facebook-blad en nomineer ʼn persoon wat dit werklik verdien.

Wenners sal op sosiale media aangekondig word.

Vir meer inligting kontak gerus vir Michelle Burger op 012 644 4390, of stuur ʼn epos na michelleb@helpendehand.co.za

Exit mobile version